Die DA het bevestig dat dit Saterdagoggend by die Afrikaanse Taalmonument in die Paarl sal betoog teen die Minister van Sport, Kuns en Kultuur, Nathi Mthethwa, se poging om “Afrikaans” uit die Afrikaanse Taalmonument te verwyder.
“Die hernoeming van die Afrikaanse Taalmonument is nog ’n voorbeeld van geld wat op die minister se persoonlike agenda vermors word,” sê Veronica van Dyk, die DA se Adjunk-Skaduminister oor Sport, Kuns en Kultuur, in ‘n verklaring.
Volgens die DA het die minister weereens in ’n situasie beland sonder om behoorlike navorsing te doen oor die positiewe impak wat die Taalmonument op baie minderheidstaalgroepe het.
“Die DA sal hierdie naamsverandering met hand en tand beveg, aangesien ons sal aanhou veg vir die behoorlike versorging van alle erfenisterreine in Suid-Afrika,” sê van Dyk verder.
Die DA se betoging sal op Saterdag, 28 Mei 2022 om 08h00, by die Afrikaanse Taalmonument in die Paarl plaasvind.
Die DA het ook ‘n petisie geloods wat beswaar maak teen die naamsverandering: https://petitions.da.org.za/p/taalmonument