In ’n historiese prestasie verskyn nie een nie, maar twee wetenskaplikes verbonde aan die Universiteit Stellenbosch (US) – prof Tulio de Oliveira en dr Sikhulile Moyo – op vanjaar se TIME 100-lys van die invloedrykste mense ter wêreld.
Dié jaarlikse lys bestaan uit individue wat die belangrikste bydraes tot ons wêreld gelewer het volgens die tydskrif TIME se internasionale netwerk redakteurs, denkleiers en vorige ontvangers van hierdie prestigeryke eerbewys.
De Oliveira is ’n professor in Bioinformatika in die US se Skool vir Datawetenskap en Rekenaardenke en in die fakulteite Natuurwetenskappe sowel as Geneeskunde en Gesondheidswetenskappe. Moyo is op sy beurt ’n US-alumnus wat in 2016 sy PhD in Geneeskundige Virologie aan die Universiteit verwerf het. Hy dien tans as laboratoriumdirekteur van die Botswana Harvard Vigsinstituutvennootskap (BHP).

Die twee wetenskaplikes word vir hulle werk op die gebied van genomika en epidemiologie erken. Hulle was in November 2021 die leiers van die multidissiplinêre span wat die Omicron-variant van SARS-CoV-2 ontdek het, wat daarna vinnig die dominante Covid-variant wêreldwyd geword het.
Suid-Afrikaners sal die gebeure met ’n tikkie ergernis onthou. Die ontdekking van die variant, wat aanvanklik die “Suid-Afrikaanse variant” genoem is, het tot stigma, reisverbiedinge en heelwat openbare vyandigheid jeens De Oliveira en sy span gelei. Nietemin het dit gou duidelik geword dat hoewel die variant in Suid-Afrika ontdek is, dit nie hier ontstaan het nie, en dat die veiligheidsmaatreëls meer bestraffend as voorkomend was. Dít, sê De Oliveira, was ’n belangrike les wat sedertdien ’n aansienlike invloed op die wêreld se reaksie op die pandemie gehad het.
Ander nuusopskrifte het dit die “Botswana-virus” genoem, of die “Suider-Afrikaanse variant” wat deur laboratoriums in Botswana en Suid-Afrika opgespoor is. “Dit was soos ’n wipwarit van emosies om te aanskou hoe die wêreld met reisverbiedinge vir Suider-Afrikaanse lande reageer,” sê Moyo.
Tog het die groep Afrikawetenskaplikes hulle nie deur die negatiwiteit van stryk laat bring nie, maar as ’n span saamgestaan en die afgelope twee jaar meer as 100 000 genome geskep.
“Hierdie erkenning deur die tydskrif TIME bewys dat Afrika se voorpuntnavorsing ’n wêreldwye impak het, en vestig prof De Oliveira en dr Moyo verder as internasionale leiers op hulle gebied,” sê prof Wim de Villiers, die US se Rektor en Visekanselier. “Hulle navorsing en daaropvolgende ontdekkings het regerings wêreldwyd in staat gestel om wetenskaplik ingeligte besluite oor Covid-19 en die Omicron-variant te neem, en hulle insluiting by TIME se lys is ’n welverdiende beloning vir hulle harde werk en kundigheid. Die US is ongelooflik trots op hulle prestasie en sal voortgaan om baanbrekernavorsing met ’n werklike impak te bevorder.”