Frederik R. van Dyk, Sekretaris van die US-Konvokasie, sê in ‘n verklaring dat die Universiteit Stellenbosch (US) se Uitvoerende Komitee (UK) met besorgdheid kennis neem van twee afsonderlike voorvalle van uiters ongewenste en beweerde misdadige optredes by twee manskoshuise van dié universiteit.
Die Huis Marais-voorval waar Theuns du Toit na bewering op ‘n swart medestudent se besittings geurineer het en rassistiese opmerkings gemaak het:
“Wat hierdie voorval by Huis Marais betref spreek die UK sy uiterste teleurstelling uit, met die ooglopend laakbare gedrag van Theuns du Toit,” sê advokaat Jan Heunis S.C., President van die Konvokasie.
Die UK sê dit verwag dat die universiteitsbestuur hierdie gedrag, asook die bewerings van ‘n rassemotief wat rassistiese gedrag sou voortbring, deeglik en met inagneming van die reëls van natuurlike geregtigheid sal ondersoek.
“Die US behoort, in teenstelling met die berugte Persgesig-voorval van enkele jare gelede, ‘n onkreukbare ondersoek en dissiplinêre proses te volg, ten einde die vertroue van die publiek en die alumni in die juridiese integriteit van die universiteit se prosesse te herstel,” sê adv. Heunis verder.
Die UK verwag dat prosesregtelik onbesmette stappe die ondersoekers sal lei, en dat openbare petisies en memorandums uit welke oord ookal, nie die ondersoek se bevindinge vooruit sal bepaal nie.
Oor die Afrikaanse taalkwessie:
Die UK het verder kennis geneem van ‘n twiet deur Professor Tulio de Oliviera oor die US se “afskaffing van Afrikaans” as ‘n stap teen rassisme. Die UK maak beswaar daarteen dat ‘n wêreld-gerekende wetenskaplike so ‘n onbillike en agterlike stelling kon maak.
Die UK versoek dat die US-bestuur ‘n verklaring uitreik dat Afrikaans nie ‘n rasgebonde taal is nie, en dat teenrassisme-pogings nie aan Afrikaanse taalverwydering gelykgestel kan word nie.
Die UK versoek ook dat De Oliveira voor April 2023 besoek aflê by tien Afrikaanse Senior Sekondêre Skole aan die Weskus om belangstelling in genetika en datawetenskappe te bevorder.
Majuba-voorval waar ‘n US-vrouestudent na bewering in ‘n manskoshuis verkrag is:
“Wat die Majuba-manskoshuis beweerde verkragtingsvoorval betref, versoek die UK dat, gegewe die geweldige vlakke van seksuele geweld wat ons in Suid-Afrika beleef, die voorval ooreenkomstig en met deeglike strafregtelike en dissiplinêre prosesse ondersoek word,” sê adv. Heunis verder.
Die UK versoek ook dat die ondersoek deur getuienis-integriteit en grondwetlike versekerings gelei word, om vooroordeel in die ondersoek ten alle koste uit te skakel, en sodoende die US-amptenary se beeld as ‘n billike instelling te help vestig.