Kevin Mileham, DA-woordvoerder oor energie, het aan die Speaker van die Nasionale Vergadering geskryf om ‘n dringende debat oor die impak van die stygende brandstofpryse en die invloed daarvan op Suid-Afrikaners se lewenskoste, te versoek.
Die prys van petrol sal na verwagting in Junie 2022 met tussen R3,50 en R4,00 per liter styg, wat die reeds hemelhoë pryse van voedsel en ander noodsaaklike goedere verder sal laat styg. Die meeste van die produkte is van padvervoer afhanklik, weens die gebrekkige nasionale spoorweginfrastruktuur.
“Ons moet alles in ons vermoë doen om die ergste moontlike gevolge van die perfekte storm waarheen ons op pad is af te weer,” sê Mileham.
Junie se massiewe brandstofprysverhoging en die uitwerking daarvan sal die armstes die hardste tref. Dit sal plaasvind in ‘n tyd wanneer hulle reeds die dodelike gevolge van ‘n 46% werkloosheidsvlak, beurtkrag, irrasionele Covid-19-regulasies, en stygende wêreldwye inflasie wat gedryf word deur Rusland se inval in die Oekraïne, asook oorstromings in sommige gebiede en droogte in ander gebiede, beleef.
’n Styging van 5,3% in maatskaplike toelaes in April vanjaar is reeds uitgewis deur die 9,6% verhoging van elektrisiteitstariewe.
“Suid-Afrikaners kan nie bekostig om te betaal vir elektrisiteit wat hulle nie eers betroubaar ontvang nie,” voeg Mileham by met verwysing na beurtkrag wat vandeesweek ingestel word.
“Huishoudelike begrotings krimp. Enige verdere petrolprysverhoging kan meer as 30 miljoen Suid-Afrikaners in hongersnood dompel,” reken Mileham.
“Dit is ‘n dreigende humanitêre ramp wat wydverspreide sosiale onstabiliteit en ‘n herhaling van die Julie-onruste verlede jaar tot gevolg kan hê.”
Wat kan die regering doen om die verwagte brandstofstyging te keer?
Die DA het vroeër berig dat bykans 30% van wat jy vir brandstof betaal, bestaan uit brandstofheffings en belasting. Die DA eis dat brandstof gedereguleer word om die impak op verbruikers te verlaag, asook om kompetisie tussen oliereuse aan te moedig aangesien elkeen sy eie brandstofprys kan vasstel.
“Die regering moet onmiddellik instem om enige styging in die koste van petrol en diesel op korttermyn te beperk, om Suid-Afrikaanse verbruikers teen hongersnood te beskerm. Meer basiese items moet onmiddellik van BTW vrygestel word, en ‘n breër strategie moet ontwikkel word om die stygende lewenskoste te stuit wat die stabiliteit van ons nasie bedreig,” voeg Mileham by.
“Daar is soveel maniere om die tekort aan inkomste uit brandstofprys en BTW-verligting vir die armes te dek. Die heel beste sou wees vir die regering om agterstallige hervormings op verskeie fronte in werking te stel en korrupsie aan te spreek.
“Enige óf al hierdie veranderinge sal onmiddellik beleggersvertroue in Suid-Afrika se toekoms bou en ons fiskale posisie van die afgrond opbou.
“Die ANC-regering het te lank die armes belas om vir sy ondoeltreffendheid en korrupsie in te staan. Die tyd om hierdie magsmisbruik te beëindig, is nou,” sluit Mileham af.