Terwyl die koste van die COVID-19-pandemie op R250 triljoen staan, glo Bill Gates dat die mensdom gelukkig is dat die virus nie meer verwoesting gesaai het nie.
“Ek moet sê, gegewe die feit dat tot 20 miljoen mense wêreldwyd weens COVID-19 dood is, met ‘n miljoen in die VSA alleenlik, kon dit baie erger gewees het. Ons was net gelukkig dat die sterftesyfer per geval 0,2% was,” het Gates Dinsdag tydens die TIME 100-beraad in New York City gesê.
In Mei het die Wêreldgesondheidsorganisasie (WGO) beraam dat daar in 2020 en 2021 ongeveer 14,9 miljoen oortollige sterftes met die pandemie verband hou. Daar is egter net 6 miljoen sterftes amptelik aangemeld.
“In ag genome hoe destabiliserend die COVID-19-pandemie was, as ‘n ander soortgelyke virus opduik, maar met ‘n veel hoër sterftesyfer – sê maar 5% – kan dit ‘die samelewing eindig’,” het Gates gesê.
Gates het verder gesê dat die mensdom “gelukkig” was om so vinnig ‘n entstof teen die virussiekte te ontwikkel, maar waarsku dat die volgende pandemie veel
erger kan wees.
Gates het ‘n boek, getiteld “How To Prevent The Next Pandemic”, uitgebring.
Volgens Gates kan die volgende pandemie klimaatsverandering, biowapens of pokke-terreuraanvalle wees.
Gates waarsku dat miljarde Amerikaanse dollars jaarliks op ondersoeke en studies bestee moet word, in ‘n poging om die volgende pandemie te voorspel en te voorkom.
“Die kans op nog ‘n pandemie in die volgende 20 jaar, hetsy natuurlik of opsetlik, sou ek sê, is meer as 50%.”