Vandag het die Demokratiese Alliansie (DA) ‘geskiedkundige en ongekende’ regstappe teen die ANC geneem om hul beleid van kaderontplooiing ongrondwetlik en onwettig te laat verklaar.
“Ek het vandag ons hofstukke by die Noord-Gautengse Hooggeregshof ingedien, saam met Solly Msimanga, Leon Schreiber en Siviwe Gwarube,” sê John Steenhuisen, DA-leier, in ‘n verklaring.
Wat is die doel daarvan?
Die politieke party het vir die volgende gevra:
???? dat die ANC se kaderontplooiingsbeleid strydig met die Grondwet is en dus ongeldig verklaar moet word;
???? dat die ANC se kaderontplooiingskomitee self onwettig verklaar moet word; en
???? dat die ANC se kaderontplooiingsbeleid teenstrydig met Hoofstuk IV artikels 9, 10, 11 en 12 van die Staatsdienswet verklaar moet word.
Watse bewyse is daar?
Die DA beweer dat sy regsdokumente die bewyse bevat oor hoe die ANC kaderontplooiing gebruik het om die staat vas te vat, openbare hulpbronne te onttrek en aanspreeklikheid te vermy.
Die getuienis steun sterk op:
???? die kaderontplooiingsnotules van 2018 wat verlede jaar bekendgemaak is ná hewige druk van die DA;
???? die getuienis wat deur ‘n wye verskeidenheid mense voor regter Zondo by die Staatskapingskommissie gelewer is; en
???? op die ANC se eie beleidsdokument wat uiteensit wat kaderontplooiing is en hoe dit gebruik word om die staat in sy wurggreep te behou.
“Die DA is in oorlog met die ANC self, en met die manier waarop die party as ’n kriminele sindikaat optree,” sê Steenhuisen.
“Ons het lankal erken dat die beleid van kaderontplooiing die noodsaaklike meganisme was wat die rampokkery moontlik maak wat die ANC se patronaatnetwerk is.”
Ter inligting: Kaderontplooiing, dit wil sê die ANC se sistematiese plasing van party-lojaliste in die staatsdiens en in staatsbeheerde ondernemings, word erken as een van die primêre dryfvere van Staatskaping.