Die Economic Freedom Fighters (EFF) het vandag ‘n strafregtelike saak teen die Speaker van die Nasionale Vergadering, Nosiviwe Mapisa-Nqakula, geopen nadat sy “besluit het om boewe opdrag te gee om by die Nasionale Vergadering in te bars en parlementslede aan te rand.”
Luidens ‘n verklaring is ‘n EFF-LP Donderdag onder die opdrag van die Speaker “fisies en seksueel aangerand”, omdat sy “dit gewaag het om te weier dat ‘n ‘beskuldigde’ President van geldwassery, ontvoering en marteling die nasie en die Parlement toespreek.”
“Die Speaker het haar desperate verdediging van president Cyril Ramaphosa voortgesit en voortgegaan om die klank van LP’s op die virtuele platform af te skakel, wat effektief meer as 290 LP’s van hul grondwetlike pligte uitgesluit het,” sê EFF-woordvoerder, Sinawo Thambo.
“Daarna was LP’s vir drie ure lank aangerand, omdat hulle aanspreeklikheid geëis het, terwyl die nasie, die vasteland en die wêreld toekyk,” sê Thambo verder.
“Ons wil Mapisa-Nqakula waarsku dat haar oudisie vir die guns van Ramaphosa en die regerende party niks nuuts is nie en in skande sal eindig.”
Volgens Thambo het die Speaker Parlementslede mishandel.
Die EFF het dus ’n saak van aanranding met die doel om ernstig te beseer en seksuele aanranding teen Nosiviwe Mapisa-Nqakula en die Parlement se beskermingsdienste aanhangig gemaak.
Die saak is gevolglik by die Kaapstad-sentraal-polisiestasie geopen. Die EFF het ook ‘n beroep op die SAPD gedoen om vinnig op te tree.
Die EFF sê dit sal private vervolging teen die Speaker en die parlement se beskermingsdienste voortsit, indien daar niks gedoen word aan die sake wat hulle geopen het nie.
“Die oorlog is verklaar,” sluit die politieke party af.