Dr. Hage Geingob, Namibiese president, het uitgevaar teen berigte wat hom betrek by ‘n strafregtelike klag wat teen President Cyril Ramaphosa ingedien is.
“Daar is absoluut geen waarheid in die bewerings dat president Geingob sy amp onbehoorlik gebruik het om president Ramaphosa by te staan nie,” lui ‘n verklaring deur die presidensie in Namibië.
“Die besonderhede rakende die arrestasie van die verdagte in Namibië op 14 Junie 2020 is sake van openbare rekord,” sê president Geingob. “Die inhegtenisneming is deur lede van die Namibiese Polisie uitgevoer op redelike vermoede dat die betrokke verdagte ‘n paar immigrasieverwante misdrywe in Namibië gepleeg het.”
“Die verdagte is ingevolge die wet daarna deur ‘n Strafhof in Namibië skuldig bevind en het ‘n boete betaal. Nadat die verdagte die boete betaal het, het hy Namibië in November 2020 na sy tuisland, Suid-Afrika, verlaat. Dit volg uit bogenoemde feite dat behalwe vir diegene wat (gemotiveer deur bymotiewe) vinnig sou wees om onnodig iets meer in die verklaring van Fraser in te lees, die verklaring duidelik nie misdadigheid suggereer nie.”
“Dit dui ook nie daarop dat president Geingob op enige manier deelgeneem het aan en/of buitelanders bygestaan het in die ontvoering en marteling van enige persoon, soos kwaadwillig en roekeloos deur sekere individue in Namibië en Suid-Afrika voorgestel word nie. Sulke voorstelle en insinuasies is in hul geheel van enige waarheid ontbloot, en dit is bloot gemaak om goedkoop politieke punte aan te teken.”
“Die aanhouding van verdagtes in Namibië is ‘n grondwetlike en statutêre plig van lede van die Namibiese Polisie wat, by redelike vermoede dat ‘n persoon moontlik ‘n misdryf gepleeg het, ‘n mandaat kry om ‘n arrestasie te bewerkstellig indien dit toepaslik en nodig geag word.”
Lees die volledige verklaring hieronder: