Die Departement van Gesondheid in KwaZulu-Natal het in ‘n verklaring gesê dat dit bewus is van die bewerings dat babas by die Prince Mshiyeni-hospitaal in Umlazi, KZN, omgeruil is.
“Die saak word met die nodige sorg, sensitiwiteit en respek hanteer, veral omdat beide betrokke ouers onder die ouderdom van 18 jaar is,” lui ‘n verklaring deur die departement.
“Die departement is hartseer oor die voorval, maar ons kan bevestig dat ons niks te doen gehad het met die bewerings van die beweerde baba-wisseling nie.”
“Een van die babas is intussen oorlede.”
Volgens die departement word die saak tans ondersoek en is dissiplinêre maatreëls teen geïmpliseerde personeellede geneem.
“Hoewel die departement deur die wet verbied word om vertroulike persoonlike inligting in die openbaar bekend te maak, is die hospitaalbestuur gereeld in kontak met die geaffekteerde gesinne om bystand te bied.
“Ons kan ook daarop wys dat die hospitaal berading aan albei partye gebied het, maar dat dit vertraag is weens hul behoefte om op hul matriekeksamens te fokus.”
Die departement het gesê DNS-toetse is uitgevoer en met albei families gedeel.
“Op versoek van die ma van die oorlede baba het ons ’n tweede DNS-toets gedoen, waarvan die uitslag op 21 Junie 2022 beskikbaar sal wees.”
Die departement sê dit is belangrik om daarop te let dat die hospitaal elke maand tussen 1 100 en 1 400 geboortes hanteer, wat die tweede hoogste in die land is, en dat die hospitaal onder diegene is wat die swaarste getref is deur die vloede, wat ongeveer dieselfde tyd as hierdie beweerde voorval plaasgevind het.