Die DA het president Cyril Ramaphosa se versekering vandag in die Parlement dat die Afrikaanse Taalmuseum en -monument nie gedwing sal word om sy naam te verander nie, verwelkom.
“Dit is goed dat die ANC rede gesien het en dat hul ideologiese haat vir Afrikaans nie in hierdie verband op die Afrikaanse Taalmonument (ATM) en Afrikaanssprekendes afgedwing sal word nie,” sê Veronica van Dyk, DA-LP.
“Sou die minister van sport, kuns en kultuur, Nathi Mthethwa, ooit weer terugloop op sy besluit rakende die naam van die Afrikaanse Taalmonument, sal die DA dit weer teenstaan,” sê van Dyk verder. “Ons sal nie toelaat dat enige inheemse tale, insluitend Afrikaans, vertrap word nie.”
Die DA versoek ook steeds dat Minister Mthethwa onomwonde op ’n openbare platform sy besluit om nie die ATM se naam te verander nie, bekendmaak.
“Ons verwag ook ’n verskoning aan die ATM-raad, omdat die Minister se manteldraaiery poog om die raad na leuenaars te laat lyk,” sê van Dyk.
“Dit lyk of die ANC-regering ’n oorlog voer teen Afrikaans en alle Afrikaanes sprekers in ’n poging om goedkoop politieke punte aan te teken. Die DA sal dit nie duld nie.”