Die Wes-Kaapse Hooggeregshof in Kaapstad het die Openbare Beskermer (OB), advokaat Busisiwe Mkhwebane, se aansoek om ‘n vervolgingsproses te staak van die hand gewys.
Mkhwebane wou hê die hof moet die Parlement se Artikel 194-ondersoek staak.
Sy wou verder hê dat die hof President Cyril Ramaphosa beveel om haar nie te skors nie.
Adv. Mkhwebane het egter gister gesê dat die ondersoek na bewerings van geldwassery teen President Cyril Ramaphosa sal voortgaan.
In ‘n verklaring ná die hofuitspraak, het adv. Mkhwebane op Twitter gesê:
“Ek sal die verdagte en wetlik twyfelagtige skorsingsbesluit wat gister geneem is, betwis,” sê Mkhwebane.
Mkhwebane sê verder dat sy die wyse waarop die besluit geneem is bevraagteken, veral “gegewe die meer onlangse Glencore en Phala-Phala klagtes/ondersoeke.”
“Aanspreeklikheid, die oppergesag van die reg, regverdigheid en gelykheid voor die reg is die kern van die kwessies wat in hierdie aangeleentheid geopper word,” sê Mkhwebane.
Mkhwebane sê sy bly hoopvol en optimisties dat geregtigheid eendag sal geskied, die waarheid sal uitkom, en dat daar inderdaad broodnodige aanspreeklikheid sal wees deur almal wat met baie ernstige grondwetlike magte toevertrou is, insluitend die President, die Speaker, die Regbank en die Openbare Beskermer.
“Vir eers sal ek nie verder kommentaar lewer oor hierdie kwessies nie en ek pleit dat my privaatheid vir die volgende paar dae gerespekteer sal word.”
Mkhwebane is ook deur die hof beveel om alle regskostes te dra.