Die iSimangaliso-vleilandpark, wat in KwaZulu-Natal aan die ooskus van Suid-Afrika geleë is, het ‘n noodlottige voorval bevestig wat vanoggend om 05h00 plaasgevind het.
Volgens inligting het drie individue, wat ‘n vrou van 59 jaar insluit, die vleiland sonder toestemming binnegegaan waar talle seekoeie en krokodille is.
Die individue het na bewering probeer om iNcema, ‘n bekende grasmat wat uniek is aan dié gebied, binne die vleiland te oes.
Dit blyk dat hulle deur ‘n seekoei aangeval is en die 59-jarige vrou haar lewe so verloor het. Die twee ander individue het ongedeerd ontsnap.
“Normaalweg begin die iNcema-seisoen in Mei-maand van elke jaar,” lui ‘n verklaring deur die vleilandpark.
“iSimangaliso-vleilandpark en Ezemvelo KZN Wildlife vergader gewoonlik met nabygeleë gemeenskappe, insluitend die Dukuduku-gemeenskap,” sê die vleilandpark verder. “Die vleilandpark verduidelik aan die gemeenskappe die proses wat gevolg moet word tydens die iNcema-oes vir daardie seisoen.”
Elke gemeenskapslid het ook ‘n spesiale permit nodig.
Vanjaar is twee vergaderings met die gemeenskappe gehou, alhoewel daar besluit is dat die iNcema-oesseisoen nie hierdie jaar sal plaasvind nie, weens die onlangse swaar reënval in KwaZulu-Natal wat bygedra het tot hoë watervlakke in die gebied.
Ander redes is die feit dat die hoë watervlakke gevaarliker diere lok.
“Dit was dus onverwags toe iSimangaliso- en Ezemvelo-polisieowerhede in die vroeë oggendure bewus gemaak is dat daar ‘n voorval was waarin ‘n vrou deur ‘n seekoei aangeval is.”