Brigadier Tembinkosi Kinan, Oos-Kaapse polisiewoordvoerder, het aan AfriNuus bevestig dat die Suid-Afrikaanse Polisiediens (SAPD) in Tabankulu op Vrydag 10 Junie 2022 ‘n 59-jarige skoolhoof in hegtenis geneem het.
Die inhegtenisname volg nadat skoolkinders, die gemeenskap en ander belanghebbendes uitgevaar het teen die skool, omdat ’n 21-jarige skoolkind na bewering deur ’n 59-jarige man in die skool verkrag is.
Volgens berigte het die misdaad op verskillende geleenthede plaasgevind, maar is dit nie onmiddellik by die SAPD aangemeld nie, totdat skoolkinders teen die skool se beheerliggaam betoog het.
Die omstandighede rondom die voorval word tans deur die eenheid teen gesinsgeweld, kinderbeskerming en seksuele oortredings ondersoek.
’n Saak van verkragting is aangemeld en die polisie het binne 24 uur ná die aanmelding die verdagte in hegtenis geneem.
Hy sal na verwagting Maandag, 13 Junie 2022, in die Tababkulu-landdroshof verskyn.
Die Provinsiale Polisiekommissaris, Luitenant-generaal Nomthetheleli Mene, het gesê: “Die verdagte moet nou sy dag in die hof hê om vir sy optrede rekenskap te gee.”
Klik hier om meer te lees.