Die Sentrum vir Ontwikkeling en Onderneming (SOO) sê die land kan nie ‘n basiese inkomstetoelaag bekostig nie.
Die sentrum het ‘n nuwe verslag vrygestel wat beraam dat sowat 60% van Suid-Afrikaners in armoede leef.
Dit volg nadat Nasionale Tesourie gesê het dit oorweeg steeds voorstelle rondom ‘n universele basiese inkomstetoelaag vir Suid-Afrika, maar hou vol dat dit nie op ‘n fiskale onverantwoordelike wyse gedoen kan word nie.
Die Uitvoerende Hoof van SOO, Ann Bernstein, sê om ‘n basiese inkomstetoelaag aan miljoene mense te gee, gaan die land nie help nie.
“In plaas daarvan sal dit tot hoër sterftes en werkloosheid lei,” meen Bernstein.
Daar is verskillende voorstelle op die tafel en dit verskil tussen R200 miljard en R300 miljard per jaar vir die staat om só ‘n toelaag te kan betaal.
“Die regering se besteding is reeds te veel met ons skuld wat tot ongesiene vlakke styg,” sê Bernstein.
“Die land het nie die geld daarvoor nie. Die enigste manier om dit te kan bekostig is om belasting te verhoog, wat uiteindelik ekonomiese groei en werkskepping sal beperk.”
Met die tydelike R350 maatskaplike toelae wat volgende week betaal word, sal dit rampspoedig wees om dit te stop, aangesien baie mense reeds daarvan afhanklik geraak het.
“Ons het een van die vinnigste groeiende skuldstygings van enige land gehad, wat vanaf 28% van ons BBP in 2007 tot 70% van ons BBP in 2020 gestyg het.
“Ons is reeds in fiskale moeilikheid.”
“Vir die laaste twee tot drie jaar moes die staat die begroting van noodsaaklike besteding sny.”
BlackSash en ander drukgroepe maan dat permanente inkomste-ondersteuning vir diegene tussen die ouderdomme van 18 tot 59 jaar met min tot geen inkomste, ter waarde van die boonste grens-armoedelyn, ingestel word. Die minimum wat die groep voorstel is tans R1 335 per maand.