Kevin Mileham, DA-woordvoerder oor Energie, het bevestig dat die politieke party se petisie rondom verlaging van die brandstofpryse aan die Minister van Minerale Bronne en Energie, sowel as die Minister van Finansies oorhandig is.
“Die DA het vandag ons brief wat versoek dat brandstofpryse verlaag word by die Ministers van Finansies en Minerale Bronne en Energie ingedien in die vorm van ‘n petisie,” sê Mileham.
Meer as 130 000 Suid-Afrikaners het die politieke party se brief aan Ministers Enoch Godongwana en Gwede Mantashe mede-onderteken.
“In die lig van die haglike toestand van die ekonomie, die miljoene mense wat werkloos is en in armoede leef, en die duisende kinders wat van die honger sterf, is dit geen verrassing dat hierdie brief een van die vinnigste groeiende petisies in die geskiedenis van die DA is nie,” het Mileham bygevoeg.
Slegs die DA se petisie teen die wanbestuur van voormalige president Jacob Zuma het meer handtekeninge gekry (500 000 handtekeninge om presies te wees).
Die DA stel voor dat:
⛽️ Die algemene brandstofheffing van R3,93 per liter heeltemal geskrap word;
???? Padgebruikers wat bewys kan lewer van ‘n omvattende derdepartyversekering, ‘n belastingkorting van R2,18 per liter kan eis by die Suid-Afrikaanse Inkomstediens (SAID) wanneer hulle hul jaarlikse belastingopgawes indien.
????♀️ Die brandstofbedryf gedereguleer word deur die wysiging van die Petroleumproduktewet, om mededinging in die groothandel- en kleinhandelbrandstofbedryf aan te moedig.
“Suid-Afrikaners kan eenvoudig nie verdere brandstofverhogings bekostig nie,” sê Mileham.
“Die gevolglike prysstygings op ander basiese goedere en dienste sal hulle verder in die skuld dompel.”
Die DA sal Woensdag om 15h00 ‘n toespraak in die Nasionale Vergadering lewer om sy voorstelle ter tafel te lê.