Dienende brigadier Stephina Mahlangu en sewe ander sakepersone is vandag op borgtog van R3 000 elk in die landdroshof in Pretoria vrygelaat.
Die beskuldigdes het in die hof verskyn in verband met vier onreëlmatige kontrakte ter waarde van meer as R960 000 wat deur die nasionale polisiekommissaris se korporatiewe dienste kantoor uitgereik is.
Die ander sewe beskuldigdes is sakepersone Kishene Chetty, Kumarasen Prithiviraj, Salamina Khoza, Harry Milanzi, Abigayle Esau, Lorette Joubert en Vhutshilo Mulaudzi.
Die betrokke kontrakte wat bevraagteken word is tussen 2014 en 2017 toegeken vir die verkryging van ink, opvoedkundige materiaal en digitale opnamestelsels.
Die groep staan tereg op aanklagte van bedrog, diefstal, korrupsie en vervalsing.
Hulle is oor die naweek in hegtenis geneem en by die Silverton-polisiestasie aangehou.
Advokaat Andrea Johnson sê dat die Ondersoekdirektoraat (OD) se onlangse arrestasies wat met polisiekontrakte verband hou ‘n duidelike aanduiding is dat niemand, insluitend enige staatsdepartement, bo die wet verhewe is nie.
Die saak keer op 29 Junie 2022 terug na die hof vir die toewysing na die streekhof.
Bron: Sindisiwe Seboka, woordvoerder van die nasionale vervolgingsgesag (NVG).