‘n Bus met meer as 50 skoolkinders het vanoggend op pad skool toe in die sloot op Sonstraalpad in die Paarl geploeg en net-net ‘n kop-aan-kop-botsing met ‘n aankomende voertuig vermy.
Nooddienste het in groot getalle gereageer, nadat die Wes-Kaap sy noodbestuurspanne op ‘n hoë gereedheidsgrondslag geplaas het ná ongure weerstoestande wat deur die Suid-Afrikaanse Weerdiens voorspel is.
Wat weet ons alles?
Die private noodradiobeheersentrum van Drakenstein Farm Watch (DFW) in die Paarl het ‘n oproep ontvang oor ‘n ongeluk tussen ‘n motor en skoolbus, waarby meer as 50 kinders betrokke was met ‘n onbekende aantal beserings.
‘n Algemene noodoproep is uitgereik aan alle mediese lede verbonde aan die DFW om op die toneel te help.
“Op die ongelukstoneel, in die gietende reën, het ons 50 skoolkinders gevind wat reeds uit die bus geklim het en na ondersoek deur noodhulppersoneel het dit geblyk dat slegs 4 beserings opgedoen het en op die toneel behandel is,” lui ‘n Facebookplasing deur DFW.
“Dit is ‘n wonderwerk dat die beserings so lig was met die buskinders. Die reaksie van alle nooddienste was vinnig en uitstekend en in getalle, gegewe busongelukke in ander gebiede, wat nie so goed geëindig het nie.”