Baie mense, insluitende kundiges op die gebied van geestesgesondheid, het ’n drastiese toename in selfmoordsyfers ná die uitbreking van COVID-19 verwag.
Maar volgens ’n nuwe internasionale studie was dit tog nie die geval nie en die meeste navorsing wat in wetenskaplike vaktydskrifte verskyn het, dui op geen verandering of selfs ’n afname in selfmoordsyfers na aanleiding van die pandemie.
Dít is volgens ’n studie oor die uitwerking van COVID-19 op selfmoord- en selfbeseringskoerse in lae- en middelinkomstelande (LMIL’e).
Die navorsing is onder leiding van dr. Duleeka Knipe van die Instituut vir Bevolkingsgesondheidswetenskappe aan die Universiteit van Bristol, deur ’n groep wetenskaplikes van regoor die wêreld, insluitende die Universiteit Stellenbosch (US) en die Suid-Afrikaanse Mediese Navorsingsraad (SAMNR), onderneem.
Die navorsers het stelselmatig bewyse oor die uitwerking van die pandemie op selfmoord en -besering in LMIL’e versamel en opgebou as deel van ’n deurlopende sistematiese oorsig wat deurlopend navorsing oor selfmoordgedrag deur ’n omvangryke geoutomatiseerde soektog in veelvoudige databasisse in alle tale identifiseer en vergelyk.
“Die kragtigste bewyse, afkomstig uit tydreeksstudies, het óf ’n afname, óf geen verandering in selfmoord en -besering in LMIL’e na aanleiding van die pandemie getoon,” sê een van die navorsers, prof. Jason Bantjes van die SAMNR en die Instituut vir Lewensloopgesondheidsnavorsing by die US.
“Hierdie bevindings is belangrik en laat interessante vrae onstaan oor die redes waarom ons nie enige veranderings in selfmoordkoerse na aanleiding van die pandemie in LMIL’e vind wanneer ons na die beste beskikbare data kyk nie.
Dit is nie te sê die pandemie het nie sosiale en sielkundige angs en ekonomiese teëspoed veroorsaak nie, maar uit die beskikbare bewyse wil dit lyk asof dit nie ’n toename in selfdoodgedrag op ’n totale bevolkingsvlak tot gevolg gehad het nie.”
Volgens Bantjes weerspieël hierdie bevinding die resultate van ’n vorige studie wat in The Lancet Psychiatry verskyn het.
Hierdie studie het bevind dat selfdoodkoerse in hoëinkomstelande ook onveranderd gebly het of afgeneem het in die vroeë fase van die pandemie, in vergelyking met verwagte vlakke op grond van selfdoodneigings vóór die pandemie.
Afrika:
Bantjes wys ook daarop dat die verrassendste bevinding van hul oorsig waarskynlik die afwesigheid van betroubare selfdoodinligting uit Afrika was.
“Enige uitwerking van die pandemie op selfdoodkoerse in Afrika word waarskynlik verbloem deur meer sigbare gesondheidsprobleme en die toename in siektes en sterfgevalle weens ander siektes waarvan die bestuur onderbreek is toe reeds-beperkte gesondheidsorgdienste tot stilstand gedwing is om mediese personeel in nood- en waakeenhede te ontplooi om Covid-pasiënte te behandel.”
Bantjes sê dit is weens die afwesigheid van betroubare epidemiologiese inligting oor selfdood in Afrika onmoontlik om ’n akkurate bepaling van die volle uitwerking van Covid-19 te bepaal en om bewysgebaseerde selfdoodvoorkomingstrategieë in die streek te beplan.
“Die gebrek aan betekenisvolle epidemiologiese selfdooddata uit die Afrika-streek is ’n langdurige ernstige wêreldwye openbare gesondheidsprobleem, maar die pandemie het die gebrek aan selfdoodnavorsingsinfrastruktuur in Afrika na vore gebring.
Bantjes sê hul bevindings moet versigtig geïnterpreteer word, aangesien dit op data uit slegs 12 van die 135 LMIL’e gegrond is omdat akkurate intydse selfdoodinligting nie in die meeste LMIL’e beskikbaar is nie.
“Die meeste van die studies wat ondersoek is, het staatgemaak op data wat in die eerste maande van die pandemie ingesamel is en die gehalte van hierdie studies was oor die algemeen swak. Verder ondervind navorsing op hierdie gebied tipies ’n gebrek aan vergelykbare vóór-Covid-inligting om ’n behoorlike bepaling van die ware uitwerking van die pandemie op selfdoodkoerse moontlik te maak.
“Terwyl die beskikbare selfdooddata rede tot optimisme bied, moet ons waaksaam bly oor moontlike toenames in selfdoodkoerse in die toekoms. Bowenal moet ons voortgaan om te verseker dat die kwesbaarste mense sielkundige en sosiale ondersteuning ontvang, aangesien ons nog moet vasstel watter blywende uitwerking die pandemie op koerse van geestesiektes wêreldwyd gaan hê.”
Selfdood kan voorkom word en hulp is beskikbaar. Enigiemand in Suid-Afrika wat selfdoodgedagtes ondervind, moet met iemand gesels wat hulle vertrou, of hul dokter raadpleeg, of in aanraking kom met een van die 24-uur-hulplyne soos die Suid-Afrikaanse Depressie-en-angsgroep (0800 567 567) of Lifeline.