Brett Herron, LP en sekretaris-generaal van GOOD, het in ‘n verklaring bevestig dat dié politieke party van Patricia de Lille se nasionale bestuurskomitee besluit het om ‘n onafhanklike ondersoeker aan te stel om tot die bodem te kom van bewerings rondom wangedrag deur lede wat die party se prestasie in ‘n onlangse tussenverkiesing geknou het.
Dit volg na ‘n berig deur die Weekend Argus, wat oor die naweek verskyn het, wat bewerings van sogenaamde sekspartytjies, gedrinkery en kaalswemmery deur senior lede van die politieke party aan die lig gebring het.
“Die uitslag van die tussenverkiesing twee weke gelede in Witzenberg Wyk 2 het die party se eerste verkiesingsterugslag geword sedert dit in 2019 gestig is,” sê Herron.
GOOD word op al drie regeringsvlakke verteenwoordig met meer as 50 raadslede wat in verlede jaar se munisipale verkiesing verkies is.
Herron sê dat integriteit een van die beginsels is wat dié politieke party van die ‘ou Suid-Afrikaanse partye’ onderskei.
“Hoe onwelkom hierdie bewerings ook al is, is dit wel ‘n geleentheid om te bewys hoe GOOD wil hê ander partye aantygings teen hul lede moet hanteer,” voeg hy by.
Herron sê dat alle GOOD-partylede gebonde is aan die party se Grondwet en Gedragskode.
“Die reëls wat ons verind is duidelik. Daar is geen bepalings vir ondeursigtige opsy-staan-reëls nie.”
Die onafhanklike ondersoeker sal vandeesweek aangestel word met ‘n opdrag om alle klagtes wat deur die party met betrekking tot die Witzenberg-skandaal ontvang is, te ondersoek. Die ondersoekverslag sal aan die nasionale bestuurskomitee voorgelê word.
“Ons sal nie ‘n tydraamwerk aan die proses koppel nie.”
Indien die klagtes gestaaf word, sal dissiplinêre prosesse gevolg word, waarvoor daar in die Grondwet van die party voorsiening gemaak is.
“As die aantygings nie waar is nie, sal diegene wat betrek is die geleentheid kry om hul name skoon te kry.”
Herron het bygevoeg dat hy van al sy partylede en ondersteuners verwag om met die ondersoeker saam te werk en sodoende by te dra tot die integriteit van die proses.
