Die Kanadese superster, Justin Bieber (28), is laasweek gediagnoseer met die Ramsay Hunt-sindroom, wat algehele verlamming van die regterkant van sy gesig veroorsaak het.
Bieber het sy hoop op herstel van ‘n siekte wat sy gesig verlam op sosiale media gedeel en gesê dat Jesus hom vrede gegee het.
Bieber het Vrydag ‘n video op Instagram geplaas wat onthul het dat hy met dié seldsame toestand gediagnoseer is.
Talle “anti-vaxxers” het egter op sosiale media gesê dat Bieber se gesigsverlamming te wyte is aan ‘n COVID-19-entstof.
Dit is egter nie bekend of Bieber al teen die koronavirussiekte ingeënt is nie, maar hy het wel al COVID-19 gehad. Wetenskaplikes het ook nie ‘n definitiewe verband tussen COVID-19-entstowwe en die Ramsay Hunt-sindroom gevind nie – maar dit keer nie mense aanlyn om daardie bewering te maak nie.
Die gesigsverlamming het veroorsaak dat Bieber sy komende toerdatums moes uitstel.
“Elke dag het my gesig beter geword en deur al die ongemaklikheid het ek troos gevind in die Een wat my gemaak het en my ken. Ek word daaraan herinner dat Hy alles van my ken,” lui ‘n boodskap wat Bieber op Instagram geplaas het.
“Hy ken die donkerste dele van my hart en verwelkom my nogsteeds met ope arms. Hierdie perspektief het my vrede gegee tydens hierdie verskriklike storm wat ek in die gesig staar,” sê Bieber.
“Ek weet hierdie storm sal verbygaan, maar tot dan is Jesus by my.”