Kommunikasiebeampte van ER24, Russel Meiring, het aan AfriNuus bevestig dat die liggaam van ‘n pasgebore babaseun oor die naweek in ‘n vullisdrom langs die Gluckman-pad in Potchefstroom se middestad gevind is.
“Saterdagaand om 18h38 is ER24-paramedici na ‘n toneel ontbied,” sê Meiring.
“Op die toneel het medici die lyk van ‘n pasgebore baba seun gevind wat in verskeie lae plastiek toegedraai was.”
Medici het die seun vinnig ondersoek en gevind dat hy geen tekens van lewe toon nie.
“Ongelukkig kon niks vir hom gedoen word nie en is hy op die toneel dood verklaar,” voeg Meiring by.
Die Suid-Afrikaanse Polisiediens (SAPD) was op die toneel om verdere ondersoek in te stel.