Nooddienste en reddingspanne verbonde aan die Johannesburg-metro het Maandag saam met Johannesburg Water en die Suid-Afrikaanse Polisiediens (SAPD) gewerk. ‘n soek-en-reddingsoperasie is van stapel gestuur om na ‘n vermiste 6-jarige seuntjie in Soweto te soek.
Johannesburg-EMS-woordvoerder, Robert Mulaudzi, sê die seun is Sondagmiddag om 15h00 as vermis aangemeld.
Met ondervraging deur nooddienste het die vermiste seun se vriende glo onthul dat hulle gespeel het, toe hy gegly en in ‘n mangat geval het.
Mulaudzi voeg by dat die metro se soek-en-reddingspanne begin het met die soektog na die vermiste seun vanaf 11h00 Sondag, met die grootste gedeelte van die area langs die mangat wat deursoek is.
Na deeglike oorwegings oor die sigbaarheid en veiligheid van die reddingspanne is die soektog Maandag om 18h00 afgelas, waarna dit Dinsdag om 08h00 sal hervat.
EMS-nooddienste van die metro het ‘n beroep op die inwoners gedoen om voort te gaan om jong kinders dop te hou, en hulle weg te hou van mangate en dreineringstelsels om voorvalle soos hierdie te vermy.