Rugbyliefhebbers in die Wes-Kaap sien gretig uit om Saterdag die eindstryd van die Verenigde Rugbykampioenskappe, tussen die Stormers en Bulle, in die Kaapstad-stadion te kyk.
Ongelukkig word die aantal mense wat dit in persoon kan bywoon, deur COVID-19-regulasies beperk.
“Terwyl ek beslis die Stormers aanmoedig, is ek diep bekommerd dat so gebeurtenis, wat aansienlike ekonomiese aktiwiteit in ons provinsie skep, nie in staat is om op sy volle kapasiteit te funksioneer nie. Dit is hoogtyd dat ons wegdoen met alle COVID-19-beperkings, want dit dien net om ons gasvryheid- en toerismesektore te ondermyn en werkskepping wat deur die private sektor geskep word, te ontspoor.”
Tans word slegs 50% van die beskikbare kapasiteit toegelaat om ingevolge die bestaande COVID-19-beperkings verkoop te word. Die totale kapasiteit van die Kaapstad-stadion is 55 000, wat beteken dat kaartjieverkope tot net 27 500 mense beperk is.
“Daarom herhaal ek my oproep aan President Ramaphosa om ‘n dringende vergadering met sy Koördineringsraad byeen te roep voor die eindstryd van die Verenigde Rugbykampioenskappe,” het premier Winde bygevoeg.
Die Provinsiale Minister van Kultuursake en Sport, Anroux Marais, het bygevoeg: “Sporttoerisme is ‘n belangrike bydraer tot ons plaaslike ekonomie. Met groot opkomende rugbywedstryde, en veral die komende Rugbywêreldbeker-sewes-byeenkomste, moet ons ons stadions tot volle kapasiteit oopstel. Dit is nie net belangrik vir die herstel van die plaaslike ekonomie nie, maar vir ons plaaslike mense om ‘n gevoel van samehorigheid en eenheid deur sport te voel.”
Gedurende 2019/2020 het die Wes-Kaapse regering se amptelike reis-, handel- en beleggingsbevorderingsagentskap, Wesgro, 39 streekgeleenthede ondersteun wat uit ontspanning- en sportaktiwiteite bestaan.
Hierdie aktiwiteite het tydelike werk vir 4 007 mense geskep. Die ekonomiese impak, gebaseer op ‘n daaglikse besteding van R910, was R208 miljoen.
Premier Winde het op 27 Mei en weer op 7 Junie 2022 aan die President geskryf om die volledige opheffing van die oorblywende COVID-19-beperkings aan te moedig. Dit sluit die dra van maskers in. Geen vergadering is sedertdien belê nie, ten spyte van die opvolging wat deur die premier gedoen is.