Die Mpumalanga-hooggeregshof in Middelburg het die 43-jarige Shaggy David Mgidi van Siyabuswa in Mpumalanga skuldig bevind aan vier aanklagte van verkragting, vyf aanklagte van roof met verswarende omstandighede en een aanklagte van huisbraak.
Al hierdie misdade is oor ‘n tydperk in sy tuisdorp gepleeg.
Die beskuldigde se modus operandi was om sy slagoffers lastig te val, te verkrag en dan van hul besittings te beroof. Terwyl hy nie bekend was aan die slagoffers nie, sou hy hulle meer as een keer verkrag.
Gedurende ‘n voorval op 13 Maart 2009 het die beskuldigde ‘n slagoffer wat saam met haar kêrel in ‘n parkie gesit het oorval. Hy het daarna die kêrel beveel om al sy klere uit te trek, dit oor ‘n heining te gooi en daarna die slagoffer na die bosse geneem waar hy haar meer as een keer verkrag het.
In Oktober 2013 het die beskuldigde ‘n ander slagoffer, wat saam met ‘n mansvriend in ‘n voertuig gesit het, aangeval. Hy het die mansvriend gedreig, weggejaag en daarna die vrou verskeie kere in die voertuig verkrag.
Die beskuldigde is uiteindelik in 2015 vir ‘n rooftog in hegtenis geneem. DNS-toetse is gedoen waar hy met die verkragtingsake verbind is. Advokaat Frieda Tshwane het die getuienis van ‘n forensiese deskundige in die hof gelei wat die voorvalle met die DNS bevestig het.
Slagofferimpakverklarings is in die hof aangebied wat aandui dat die slagoffers in vrees lewe en steeds trauma weens die voorvalle ervaar.
Advokaat Tshwane het die hof toegespreek met ‘n versoek vir ‘n maksimum vonnis, aangesien geslagsgebaseerde geweld ‘n ernstige plaag in die samelewing is wat sterk veroordeel moet word.
Met die beskuldigde se skuldigbevinding is hy tot vier keer lewenslank en tagtig jaar ekstra gevangenisstraf gevonnis.
Regter Mankge het die beskuldigde lewenslange tronkstraf opgelê op elke aanklag van verkragting, vyftien jaar tronkstraf vir elke aanklag van roof met verswarende omstandighede en vyf jaar vir huisbraak.