Met styl is die top 10-finaliste wat om die mooiste kroon in die land meeding gister by die Maslow-hotel in Sandton, Johannesburg, aangewys.
Die top 10-finaliste wat sal meeding vir die aanwysing op 13 Augustus is Anarzade Omar, Itumeleng Parage, Ayanda Thabethe, Keaoleboga Nkashe, Lebogang Mahlangu, Pearl Ntshehi, Luvé Meyer, Luyanda Zuma, Ndavi Nokeri en Tamsyn Jack.
Die finaliste is geklee in Khosi Nkosi™ @ YDE wat in samewerking met die huidige Mej. SA, Lalela Mswane, ontwerp is.
Wanneer jy na die tien dames kyk kan jy nie anders as om hul skoonheid te bewonder nie.
Dit is mos waaroor die kompetisie gaan? Verkeerd.
Indien jy dink dat hierdie kompetisie net oor die uiterlike gaan, sit jy die pot behoorlik mis. Hierdie vroue kan enige tyd hul eie standpunt op enige vlak van die samelewing inneem met breinkrag, innerlike krag en dryfkrag.
1️⃣ Ndavi Nokeri (23) is as die publiek se gunsteling aangewys. Sy was gedurende 2019 Miss Jozi en spog met ‘n BCom-graad in beleggingsbestuur.
2️⃣ Tamsyn Jack (25) is die takbestuurder van die UrbanTrend-eiendomsgroep en die eienaar van Pique Digital. Sy spog met ‘n honeursgraad in voedselwetenskappe. Sy werk verder saam met sommige van die land se voorste beginnersondernemings.
3️⃣ Rebone Ntsheni (25) is die eerste vroulike president van Eduvos-universiteit se studenteraad. Sy spog met ‘n BCom-honeursgraad in regsgeleerdheid. Sy is verder ‘n intreevlak-prokureur en die stigter van Project 31.
4️⃣ Luvé Meyer (25) is ‘n voltydse model by die Ice-modelagentskap. Sy spog met ‘n BA-graad in gesondheidswetenskappe, ‘n graad in maatskaplike dienste en ‘n BA-honeursgraad in sielkunde. Sy is die mede-eienaar van ‘n besigheid en het in 2020 Mej. SA se top 35 behaal.
5️⃣ Luyanda Zuma (20) is ‘n internasionale model, entrepreneur en ‘n finale jaar student aan AFDA. Sy het in 2021 Mej. SA se top 30 behaal.
6️⃣ Keaoleboga Nkashe (26) is ‘n vryskutmodel, ‘n nagraadse student en ‘n voormalige onderwyseres by ‘n kleuterskool wat in China klasgegee het, maar terug na Suid-Afrika gekeer het toe sy hoor dat sy Mej. SA se top 30 behaal het.
7️⃣ Itumeleng Parage (22) is ‘n regsstudent en wil graag jong meisies mentor. Michelle Obama is haar rolmodel en haar doelwit is om die wêreld ‘n beter plek vir vroue te maak.
8️⃣ Ayanda Thabethe (22) is as Mej. KZN Queen in 2021 aangewys. Sy is tans besig met ‘n graad in dieetkunde en is aktief betrokke in haar gemeenskap waar sy help dat gesonde lewenskeuses gemaak word deur die #nyakazani-projek.
9️⃣ Anarzade Omar (23) spog met ‘n BA-graad in bemarking. Sy was in 2020 ‘n beïnvloeder vir Nivea, in 2021 ‘n finalis van Mej. Mamelodi Sundowns en ook ‘n ambassadeur vir BIC Soleil. In 2019 is sy onder die top 35-finaliste van Mej. SA aangewys en in 2020 onder die top 30. Sy het gedurende die inperking ‘n digitale sushi-besigheid geopen.
???? Lebogang Mahlangu (26) spog met ‘n graad in voedselwetenskappe. Sy het in 2020 onder die top 10-finaliste van Mej. SA geeïndig.