Maandag 13 Junie het die Wêreldbank ‘n lening van R7,6 miljard (oftewel $480 miljoen) vir Suid-Afrika se COVID-19-noodreaksieprojek goedgekeur.
“Die lening kom na aanleiding van ‘n versoek deur die Suid-Afrikaanse regering vir hulp met die finansiering van kontrakte vir die verkryging van entstowwe,” sê Foster Mohale, woordvoerder van die departement van gesondheid, in ‘n gesamentlike verklaring met die nasionale tesourie.
Dié lening sal die verkryging van 47 miljoen COVID-19-entstofdosisse finansier.
Teen 13 Junie 2022 is meer as 36,4 miljoen COVID-19-entstofdosisse toegedien, met ongeveer 50,3% van volwassenes en 29,9% van 12 tot 17-jarige adolessente wat ingeënt is.
“Meer kan egter gedoen word om entstofdekking te verhoog, die verspreiding van die virus te bekamp en die land se ekonomiese herstel te bevorder,” meen Mohale.