Vier voertuie wat in Mpumalanga as gesteel aangemeld is, is Dinsdagoggend om 03h00 deur die Suid-Afrikaanse Nasionale Weermag (SANW) onderskep toe daar gepoog is om hulle oor die grens tussen Suid-Afrika en Mosambiek te neem.
Die vier gesteelde voertuie, wat insluit twee Toyota Legend 50-bakkies, ‘n Toyota Fortuner en ‘n Toyota Hilux-bakkie, is as verdag opgemerk waar hulle in die vroeë oggendure in ‘n konvooi gery het.
Volgens polisiewoordvoerder in Mpumalanga, brigadier Selvy Mohlala, was die weermaglede besig met patrolering van die area toe hulle die voertuie in aantog gewaar het. Na bewering het die onbekende verdagte insittendes van die genoemde voertuie skielik na die weermaglede begin skiet. Daar is teruggeskiet waarna een onbekende verdagte man noodlottig gewond is.
Die ander verdagtes wat in hul voertuie was, het die voertuie net so gelaat en daarin geslaag om te voet die donker in te vlug.
“Die polisie het ‘n geregtelike doodsondersoeksaak geopen ná die ongeïdentifiseerde oorledene se sterfte,” sê Mohlala verder.