Die pa van ‘n 16-jarige dogter is beroof toe hy onder die indruk was dat sy dogter wat by haar ouma in KwaDabeka (‘n informele nedersetting in KwaZulu-Natal) gewoon het, deur ‘n sindikaat ontvoer is.
Na bewering is die pa deur drie onbekende verdagte mans in ‘n silwer Ford Ranger-bakkie gedwing om saam met hulle na Folweni in dieselfde provinsie te reis.
Met hul aankoms in Folweni is hy gedwing om R10 000 uit sy bankrekening te trek en aan hulle te oorhandig. Hy het met hierdie onttrekking sy daaglikse perk bereik.
Toe die verdagtes op die bankstaat sien dat daar nog ‘n balans van R4 000 in sy rekening oor is, het die verdagtes hom ingelig dat hy dit die volgende dag [15 Junie] sou moes onttrek en ook aan hulle gee om sy dogter [wie hulle glo het] se veiligheid te verseker.
Die verdagtes het die pa van die dogter vanoggend weer in hul voertuig gelaai en na Capitec Bank in Wickstraat vervoer. Twee van die gewapende verdagtes het hom tot by die bank se deur vergesel en hom gewaarsku om nie aandag op homself te rig nie, die laaste geld uit sy rekening te onttrek en aan hulle te oorhandig.
Hy het die bank binnegegaan en dadelik die voorval aan die sekuriteit by die bank aangemeld, wat Verulam SAPD ontbied het.
Die twee verdagtes het opgemerk dat hy hulp ontbied het en dadelik van die toneel gevlug.
Polisiebeamptes is ingeroep om die verdagtes te help vastrek, waarna hulle die bestuurder van die voertuig agter die stuurwiel van die verdagte voertuig in hegtenis geneem het.
Daarna het hulle ‘n intensiewe soektog van stapel gestuur na die twee verdagtes wat te voet gevlug het, maar kon hulle tot op hede nie opspoor nie.
Hierna het die beamptes van Reaction Unit South Africa (Rusa) saam met die polisie ‘n soektog na die 16-jarige dogter van stapel gestuur, aangesien haar pa geglo het dat sy ontvoer is.
Nadat hulle haar nie kon vind nie, het die pa die polisie en Rusa-reaksiebeamptes na KwaDabeka geneem waar sy bly, in ‘n poging om haar op te spoor.
Met aankoms by die huis, wat sy met haar ouma deel, het die ouma hulle ingelig dat die 16-jarige vanoggend skool toe is.
Hierna het die polisie en reaksiebeamptes na die skool gegaan uit vrees dat die twee ander verdagtes haar dalk eerste sou opspoor.
Sy was egter veilig by die skool en het die wetstoepassers ingelig dat sy die vorige aand ‘n oproep van haar pa se selfoon af ontvang het.
Onderhoude wat met haar gevoer is, het onthul dat die persoon wat op die selfoon gepraat het, genoem het dat hulle haar pa gyselaar hou. Hulle het verder gesê dat hy hulle moes gehoorsaam, want as hy nie doen nie sal hulle haar ook ontvoer. Sy was ook verhoed om uit te praat.
Die verdagte wat in hegtenis geneem is, staan tereg op aanklagte van ontvoering en gewapende roof.