DA-leier, John Steenhuisen, het vandag nege stappe aangekondig “om President Cyril Ramaphosa aanspreeklik te hou”, aangesien die president na bewering versuim het om al die relevante besonderhede rondom die diefstal van ‘n beweerde $4 miljoen uit sy Phala Phala-plaashuis in 2020 in die openbaar bekend te maak.
Die DA meen dat dié onthulling ernstige twyfel oor die integriteit van die Presidensie geplaas het, en gelei het tot werklike openbare wantroue in President Ramaphosa self.
Die DA het soos volg versoek dat die:
1️⃣ FBI ondersoek.
Die DA het aan die Amerikaanse Federale Buro vir Ondersoek (FBI) se Pretoria-kantoor geskryf om te versoek dat hulle bewerings van moontlike geldwassery deur die President ondersoek.
Die party het spesifiek versoek dat die FBI dit oorweeg om die bron van die fondse te ondersoek en of die geld wettiglik in Suid-Afrika ingebring is en aan die toepaslike owerhede verklaar is.
2️⃣ Finansiële Intelligensiesentrum ondersoek.
Die DA het aan die Finansiële Intelligensiesentrum (FIC) geskryf en versoek dat hulle die verskillende beweerde finansiële transaksies wat na die diefstal plaasgevind het, insluitend die aankoop van verskeie luukse voertuie in kontant, ondersoek.
Die FIC het ‘n wetgewende mandaat om die opbrengs van misdaad ingevolge die Wet op die Finansiële Intelligensiesentrum van 2001 te identifiseer.
3️⃣ Belastingbedrogafdeling by die SAID ondersoek.
Die DA het bogenoemde vrae aan die Belastingbedrogdepartement by die Suid-Afrikaanse Inkomstediens (SAID) gerig.
4️⃣ President se finansiële belange openbaar word.
Die DA het verder aan die Kabinetsekretaris in die Kantoor van die Presidensie, Phindile Baleni, geskryf om insig te versoek van President Ramaphosa se verklaring van sy finansiële belange soos vereis deur die Uitvoerende Lede Etiekwet No. 82 van 1998 en die Uitvoerende Etiekkode.
5️⃣ Openbare Beskermer (OB) klagtes ondersoek.
Die DA het aan die waarnemende openbare beskermer, Kholeka Gcaleka, geskryf om ‘n formele klag ingevolge die Wet op Etiek van Uitvoerende Lede te lê en haar te versoek om die beweerde oortredings te ondersoek.
6️⃣ ‘Polisietoesmeerdery’ verduidelik word,
Die DA het aan die Nasionale Polisiekommissaris, Fannie Masemola, geskryf en hom die volgende vrae gevra:
Waarom is generaal-majoor Wally Rhoode na Namibië gestuur? Waarom is geen formele saak geopen nie? Waarom is die diefstal weggesteek? Wat het die ondersoek belastingbetalers gekos?
7️⃣ Die ontbrekende saaknommer verduidelik word.
Die DA het die voorsitter van die portefeuljekomitee oor justisie en korrektiewe dienste, Gratitude Magwanishe, versoek om die Minister van Justisie te dwing om voor die komitee te verduidelik waarom Suid-Afrika nie met ‘n saaknommer gereageer het nie. Hy het in beginsel ingestem, hangende toestemming van die Parlement.
8️⃣ Besonderhede openbaar word van wie vir die sekuriteitsopgraderings betaal het.
Die DA het aan die Minister van Openbare Werke geskryf oor die daaropvolgende sekuriteitsopgraderings by die President se Phala Phala-plaas, en of dit ten volle of gedeeltelik met openbare fondse betaal is.
9️⃣ Besonderhede openbaar word van wie vir die President se private ondersoek betaal het.
Die DA het aan Tina Joemat-Pettersson, die Voorsitter van die Portefeuljekomitee wat oor die polisie toesig hou, geskryf en versoek dat generaal-majoor Wally Rhoode voor die komitee verskyn.
In ‘n beëdigde verklaring beweer Arthur Fraser dat die President vir Rhoode, die hoof van sy BBP-beskermingseenheid, gestuur het om na Namibië te reis om ‘n geheime ondersoek en/of ondervraging te doen, na diegene wat na bewering by die inbraak betrokke was.
Die DA meen dat dit moontlik is dat hierdie private ondersoek van ‘n diefstal wat nooit formeel by die SAPD aangemeld is nie, op die belastingbetalers se koste gedoen is.
Die DA versoek dat Rhoode ‘n verslag aan die Parlement verskaf van wat gebeur het met betrekking tot hom en/of die beskermingseenheid in opdrag van die President na Namibië gereis het.
“Daar word beweer dat President Ramaphosa geldwassery, belastingontduiking, korrupsie, ontvoering en omkopery gepleeg het, asook verskeie ander wette oortree het om miljoene dollars terug te bring wat in ‘n bank op sy Phala Phala-wildplaas versteek was en om dit dan toe te smeer,” sê Steenhuisen.
Die DA sê dit sal elke moontlike invalshoek volg om President Ramaphosa tot verantwoording vir hierdie voorval te roep.