Baie mense is onder die indruk dat die proses om beenmurg te skenk pynlik is, maar dit is glad nie waar nie.
Mighty Mack se familie het vandag ‘n inspirerende storie gedeel oor Luke, ‘n 21-jarige skenker wat onbaatsugtig ‘n lewe gered het deur beenmurg te skenk.
Mighty Mack is ‘n Facebookblad wat deur Mackenzie Friedman, wie met Akute Myeloïede Leukemie (AML) gediagnoseer is, se familie geskep is. Dié blad pleit by die publiek om ander te help.
Volgens dié blad het Luke drie jaar gelede as ‘n matrikulant by ‘n bewusmakingsveldtog by sy skool aangesluit en as ‘n beenmurgskenker geregistreer.
‘n Paar maande gelede het Luke ‘n oproep ontvang waarin hy meegedeel is dat hy ‘n pasmaat is van iemand wat ‘n beenmurgoorplanting nodig het.
Luke het die volgende van sy skenkingsproses gedeel:
“Toe ek gebel is om te sê dat ek moontlik met ‘n pasiënt op die wêreldwye register gepas het, was die proses wat gevolg het relatief vinnig, maklik en pynloos. Die betrokke pasiënt het die skenking dringend nodig gehad, so ek is dadelik gestuur vir bloedtoetse en ‘n doktersbesoek om my algemene gesondheid na te gaan. Nadat die uitslae teruggekom het wat bevestig het dat ek gesond is, is ‘n datum vir my skenking vasgestel. Intussen moes ek nog ‘n stel bloedtoetse en ‘n vinnige afspraak met die dokter inpas. Hulle het my ‘n klomp inspuitings gegee wat ek self twee keer ‘n dag moes toedien. Ek het gedink dit sou die moeilikste deel wees, maar in my agterkop het ek aan die persoon bly dink wat my stamselle nodig het en hoe ek moontlik hul lewens kon red.
“Die dag het aangebreek en ons is om 07h00 hospitaal toe. Ek was gekoppel aan ‘n masjien wat bloed uit my een arm onttrek, dit laat draai en die stamselle van die rooibloedselle geskei het. Dan is die rooibloedselle teruggestuur in die ander arm. Dit was eerlikwaar soos om bloed te skenk en glad nie moeiliker as dit nie. Ek was daardie middag tot 16h30 aan die masjien gekoppel, terwyl twee verpleegsters my gemonitor het. Ek het ‘n bietjie moeg gevoel en tydens die prosedures nou en dan geslaap, maar ek het glad nie enige pyn gevoel nie.
“Ek is so trots daarop dat ek gevra is om my stamselle te skenk. Ek wou hê almal moet weet watter maklike proses dit is en hoe belangrik dit is.”
???? https://sabmr.co.za