“Alle aanduidings is daar dat die regering binnekort die nuwe omstrede gesondheidsregulasies gaan terugtrek,” sê Dirk Hermann, Solidariteit se bestuurshoof.
“Indien die regulasies teruggetrek word sal dit die einde van maskers, beperkings op getalle in stadions en teaters en reisbeperkings na Suid-Afrika beteken.”
Dit sal verder ook die einde van ‘n verpligte Covid-19-inentingsertifikaat beteken.
Dit volg na ‘n skrywe van Solidariteit waarin die vakbond eis dat die regulasies opgehef word voor Solidariteit in die hof gaan wees.
Solidariteit is in besit van ‘n brief van die minster van gesondheid, Dr. Joe Phaahla, aan provinsiale gesondheidsministers waarin hy vra dat hulle kommentaar lewer oor die terugtrek van die gesondheidsregulasies.
‘n Bron het die egtheid van die brief aan Solidariteit bevestig.
In die brief (soos hieronder) stel die minister van gesondheid voor dat die dra van maskers gelig moet word, sowel as die beperking op sametrekke en alle ander Covid-beperkings.
Dié brief, wat op Maandag 20 Junie vrygestel is, dui daarop dat die rede vir die voorstelle die jongste Covid-19-syfers is wat aandui dat die virussiekte oor die algemeen lae bevestigde gevalle, lae hospitalisasies, ‘n lae positiwiteitskoers en lae aantal sterftes tot gevolg het.
Die kabinet sal binne die volgende 48-72 uur vergader om die voorstelle te oorweeg.
“Indien die regering dit nie gaan doen nie, gaan Solidariteit vra vir ‘n strafkostebevel in die hof,” sê die vakbond.
