Steve Hofmeyr het gister vanuit die hospitaal op sosiale media uitgevaar teen die bedrag van R500 000 wat deur die Suid-Afrikaanse Menseregtekommissie (MRK) aan hom opgelê is. Dié bedrag moet aan ’n organisasie sonder winsbejag geskenk word wat deur die kommissie geïdentifiseer word en die regte van die LGBTQI+-gemeenskap bevorder.
In ‘n Facebook-plasing, wat sedertdien verander is, het Hofmeyr Maandag gereageer: “Die Gelykheidshof/MRK laat weet – effektiewelik – dat ek altyd moet onthou dat, as my kinders iets sou oorkom en ek my kinders nie kan help nie, ek darem R500k aan vroue met penisse geskenk het.”
Sedertdien is die plasing opdateer met die volgende woorde: “Die Gelykheidshof/MRK laat weet – wat vir my daarop neerkom dat – ek altyd moet onthou, as my kinders iets sou oorkom en ek my kinders nie kan help nie, ek darem R500K spandeer aan omies in spandex wat ons kleuters wil ‘groom’ in familie-vriendelike drag-shows.”
AfriNuus het vroeër berig dat die MRK ‘n saak voorberei om na die Gelykheidshof te neem ná Steve se uitlatings op sosiale media oor die LGBTQI+-gemeenskap.
Dit kom nadat Hofmeyr in April in ’n video op sosiale media daarop gesinspeel het dat die “+” in die afkorting LGBTQI+ bestialiteit insluit.
“Waar my generasie geleer is om met muise, honde en eende te praat, gaan ons kinders geleer word om met muise, honde en eende seks te hê,” sê Hofmeyr in die video wat sedertdien van sosiale media verwyder is.
AfriNuus het ook berig dat verskeie eise teen die sanger ingestel is, wat insluit:
⚡️’n Nie-winsgewende organisasie in Gqeberha eis onder meer R500 000 as skadevergoeding van Hofmeyr.
⚡️ Die Kommissie versoek dat Hofmeyr op sy sosiale media kanale verskoning vir sy volgers vir sy uitlatings vra.
⚡️20 uur se gemeenskapsdiens by ‘n sentrum ter ondersteuning van die bevordering van menseregte.
⚡️Die aansluit by ‘n slypskool deur die kommissie wat handel oor diversiteit, inklusiwiteit en menseregte.
Die skermgrepe is geneem vóór en ná die verandering.
