Jan Oberholzer, bedryfshoof van Eskom, het pas gedurende Eskom se daaglikse mediakonferensie bevestig dat die land fase 3 of hoër beurtkrag in die gesig staar, indien enige verdere kragopwekkingseenhede onklaar raak.
“Ons is op ‘n punt waar ons noodsaaklike diesel- en waterreserwes moet gebruik,” sê Oberholzer. “Sou ons voortgaan om onderbrekings in die vloot te ervaar, kan beurtkrag eskaleer na fase 3 of selfs hoër. Ons probeer dit vermy, maar die stelsel is onstabiel en onvoorspelbaar.”
Eskom het sedert begin van April meer as 200 miljoen liter diesel gebruik.
Eskom het vanoggend bevestig dat fase 2-beurtkrag tussen 10:00 en middernag vanaand ingestel sal word. Vanaf Donderdag tot Sondag sal fase 2-beurtkrag vanaf 05:00 tot middernag ingestel word.
Kaapstad is wel op ‘n laer vlak van beurtkrag, terwyl beurtkrag nie in eThekwini ingestel word nie.
Oberholzer meen dat die nutsmaatskappy poog om teen Sondag ongeveer vyf opwekkingseenhede weer in werking te stel, sodat vooruitsigte vir beurtkrag volgende week beter lyk.
Dit is die eerste keer in drie weke dat Eskom gedwing was om beurtkrag in te stel, aangesien 3 630 MW se kragopwekkingskapasiteit verlore is weens beplande herstelwerk en ‘n verdere 15 277 MW weens onklaarrakings.