Die aantal mense wat wêreldwyd deur hongerte geraak word, het in 2021 tot soveel as 828 miljoen gegroei, volgens ‘n verslag van die Verenigde Nasies (VN) wat Woensdag vrygestel is. In die verslag het die VN bevestig dat hongersnood met 150 miljoen gedurende die COVID-19-pandemie toegeneem het, gevolg deur ongeveer 46 miljoen vanaf mid-2020.
Die VN-verslag wys die wêreld beweeg verder weg van sy doelwit om hongerte, voedseltekorte en wanvoeding in al sy vorme teen 2030 te beëindig. Bykans 50% van Suid-Afrikaners word deur hongerte geraak.
Cindy Hollerman, ‘n alombekende ekonoom en die samesteller van die verslag, het op ‘n VN-perskonferensie in Genève gesê dit is “ontstellend” om die stygende neiging in die aantal mense te sien wat nie kos op hul tafels het nie.
Die vyf VN-agentskappe agter die verslag het gesê dat die oorlog wat in die Oekraïne woed, met die Oekraïne en Rusland wat twee van die grootste wêreldwye produsente van graan, oliesade en kunsmis is, internasionale voorsieningskettings erg ontwrig.
Hulle het gesê die oorlog tussen Rusland en Oekraïne verhoog die pryse van graan, kunsmis, brandstof en kos vir kinders met ernstige wanvoeding.
“Hierdie verslag beklemtoon herhaaldelik die verskerping van hierdie groot drywers van voedseltekorte en wanvoeding: konflik, klimaatsverandering en ekonomiese gebeurtenisse, gesamentlik met groeiende ongelykhede,” het die agentskappe se hoofde in vanjaar se voorwoord geskryf.
Nadat die syfers sedert 2015 relatief onveranderd gebly het, het die persentasie mense wat deur hongerte geraak word, in 2020 en in 2021 bly styg tot 9,8% van die wêreldbevolking.
Sowat 2,3 miljard mense wêreldwyd (29,3% van die bevolking) het in 2021 matig of erg voedseltekorte in die gesig gestaar.
Dit was 350 miljoen meer in vergelyking met voor die uitbreek van die COVID-19-pandemie, lui die verslag.
Byna 924 miljoen mense (11,7% van die wêreldbevolking) het voedseltekorte op ernstige vlakke in die gesig gestaar, ‘n toename van 207 miljoen in twee jaar.
Die geslagsgaping in voedseltekorte het in 2021 bly toeneem – 31,9% van vroue in die wêreld was matig of erg onseker of hulle kos op hul tafel sal hê, vergeleke met 27,6% van mans – ‘n gaping van meer as 4 persentpunte, vergeleke met 3 persentpunte in 2020.
Byna 3,1 miljard mense kon nie ‘n gesonde dieet in 2020 bekostig nie, 112 miljoen meer as in 2019, wat die uitwerking van inflasie in verbruikersvoedselpryse weerspieël wat voortspruit uit die ekonomiese impak van die COVID-19-pandemie en maatreëls wat ingestel is om dit te beperk.
Na raming het 45 miljoen kinders onder die ouderdom van vyf gely aan “vermorsing” (wasting), die dodelikste vorm van wanvoeding, wat kinders se risiko van dood met tot 12 keer verhoog.
Lees die volledige verslag hier: