Op Sondag, 10 Julie 2022, om 20:30, het ’n 34-jarige inwoner van Ikamvelihle in Gqeberha na sy huis gestap toe hy deur twee gewapende mans genader is.
Uit vrees dat hulle hom gaan beroof, het hy probeer om van hulle af te vlug. Hulle het hom agternagesit en hom met ’n pistool in die gesig geslaan.
Daarna het die 34-jarige na ’n nabygeleë plakkershut gevlug. Een van die verdagtes het hom in die plakkershut agtervolg, terwyl die ander verdagte van buite die huis losgebrand het. Een van die vermeende rowers is doodgeskiet.
Toe die verdagte buite besef het dat hy sy medepligtige doodgeskiet het, het hy sy makker se vuurwapen gegryp en van die toneel gevlug.
Die 34-jarige slagoffer wat van hulle gevlug het, was ongedeerd in die voorval, behalwe die ligte wond toe hulle hom met ’n vuurwapen geslaan het.
Kaptein André Beetge, provinsiale polisiewoordvoerder, het bevestig dat ’n moorddossier geopen is en deur die Suid-Afrikaanse Polisiediens (SAPD) in Ikamvelihle ondersoek word.