Standard Bank het Maandag bevestig dat dit sy verpligte inentingsbeleid ‘met onmiddellike effek’ geskrap het. Dit beteken dat werknemers van dié bank nie meer verplig is om ingeënt te word of ’n negatiewe PCR-toets te lewer wanneer hulle die maatskappy se kantore betree nie.
Dié aankondiging volg slegs enkele dae sedert die SA vereniging van bankamptenare (Sasbo) versoek het dat Standard Bank die beleid kanselleer, nadat werknemers na bewering sedert 4 April 2022 afgedank is wat nie aan sy verpligte Covid-19-inentingsbeleid voldoen het nie.
In ’n interne brief het dit ’n besluit geneem om sy beleid om te keer, nadat Covid-19-gevalle in die land afgeplat het en aangesien 95% van sy werknemers reeds teen die virussiekte ingeënt is.
Die vakbond het gesê hy is bewus van minstens 40 Standard Bank-werknemers, almal Sasbo-lede, wat afgedank is omdat hulle glo geweier het om aan die verpligte inentingsbeleid te voldoen.
Joe Kokela, Sasbo-hoofsekretaris, het Standard Bank versoek om die betrokke personeellede weer ‘onvoorwaardelik’ aan te stel. Kokela voer aan dat die versuim van die bank om dit teen Vrydag 15 Julie te doen, daartoe sal lei dat Sasbo hofstukke indien.
“Ons het Standard Bank op ’n stadium gewaarsku dat hulle nie die beleid kan instel terwyl die regering nie ’n amptelike verklaring gemaak het oor wat presies moet gebeur in verband met verpligte inentings in die werksplek nie,” sê Kokela in ’n verklaring.
“Noudat al die protokolle verslap word, wil ons hê hulle moet die besluit kanselleer en die 40 werknemers onvoorwaardelik weer in diens neem. As ons nie ’n antwoord teen Vrydag (15 Julie) kry nie, sal ons gedwing word om ons tot die howe te wend.”