Andrew Whitfield, DA-woordvoerder oor die polisie, het in ’n verklaring onthul dat die Minister van Polisie, Bheki Cele, in ’n antwoord op ’n parlementêre vraag van die Demokratiese Alliansie (DA) erken het dat sedert hy die minister van polisie geword het, die aantal speurders met meer as 1 300 afgeneem het. Die antwoord het verder aan die lig gebring dat 20% van die voertuie wat aan speurders toegewys is, nie op 22 Mei 2022 in werking was nie.
“Met 1 300 minder speurders regoor die land sedert 2019, beteken dit oorwerkte speurders wat die kragtigste wapen in die stryd teen misdaad is. Tydens ’n onlangse toesigbesoek aan ’n polisiestasie in Pietermaritzburg het ’n speurder vir my gesê dat hy 280 dossiere op sy tafel het,” sê Whitfield. “Geen speurder behoort so ’n oorweldigende las te dra nie. Dit is geen wonder dat misdaad in Suid-Afrika aan die toeneem is nie.”
Whitfield voeg by dat in ’n land waar misdaadstatistieke in die vierde kwartaal aan die lig gebring het dat meer as 67 mense elke dag vermoor en 153 verkrag word, kan die Suid-Afrikaanse Polisiediens (SAPD) nie minder speurders bekostig nie. “Jy kan nie ’n prys plaas op kwaliteit ondersoekwerk deur toegewyde en bekwame speurders nie.”
Die DA gaan die stryd vir bykomende hulpbronne vir die SAPD se speurdienste na die portefeuljekomitee oor polisie neem.
Verder sal Crezane Bosch, DA-LPW en woordvoerder oor gemeenskapsveiligheid in Gauteng, en die DA-LPW en woordvoerder oor gemeenskapsveiligheid, Ruhan Robinson, vandag hul eerste dag in die 100 dae lange inspeksietoer by Gautengse polisiestasies aanpak.
Die doel van die toer is om die funksionaliteit van al 144 polisiestasies regoor die provinsie te evalueer.
“Misdaad in Gauteng is algemeen en inwoners loop daagliks ’n groot risiko om vermoor, beroof, verkrag, ontvoer of by ’n kaping betrokke te raak.”