Tiger Brands sal bedrywighede by sy sagtevrugtebesigheid Langeberg & Ashton Foods (L&AF) vir ’n verdere seisoen verleng.
“Die besluit is geneem nadat ’n ooreenkoms aangegaan is met L&AF-werknemers, arbeidsorganisasies en lede van die Inmaakvrugteprodusentevereniging (IPV),” sê Azure Fey, woordvoerder van Tiger Brands, in ’n verklaring.
Die ooreenkoms sal die maatskappy toelaat om die aansienlike risiko te onderneem wat nodig is om die besigheid vir die komende seisoen te bedryf.
“Tiger Brands sal voortgaan om met belanghebbende partye in gesprek te tree om ’n transaksie te finaliseer wat voorsiening kan maak vir die voortsetting van ’n volhoubare sagtevrugteverwerkingsbedryf ná die 2022/3-seisoen,” voeg Fey by.
In Junie 2022 het Tiger Brands begin met konsultasies en afsprake oor die toekoms van die besigheid in die afwesigheid van enige redelike vooruitsigte van ’n lewensvatbare transaksie aan die einde van ’n uitputtende proses van twee jaar.
Die afgelope paar weke het ’n aansienlike aantal partye belangstelling in verdere gesprekke oor die moontlike verkryging van L&AF uitgespreek. Die sluiting van enige transaksie sou egter nie betyds plaasgevind het vir enige suksesvolle koper om die nodige voorbereidings in plek te stel om die komende 2022/3 seisoen se oes te verwerk nie. Die maatskappy het dus sy sleutelvennote op ’n dringende basis betrek.
“Die buigsaamheid en goeie trou wat deur alle partye getoon word om hierdie ooreenkoms te bereik, sal voorsiening maak vir voorstelle om die werk van 250 permanente werknemers en 4 300 seisoenwerkers te verseker,” sê Noel Doyle, Tiger Brands se uitvoerende hoof.
“Terwyl die verwerking en bemarking van sagtevrugte onderhewig bly aan die weer, wisselkoerse en wêreldwye prysdinamika, dra die ooreenkoms betekenisvol by om die risiko van aansienlike bedryfsverliese in die komende seisoen te versag.”
Die maatskappy sê dit sal alle opsies ondersoek, terwyl die lewensvatbaarheid van die huidige belang in die fasiliteit beoordeel word. In parallelle prosesse sal Tiger Brands voortgaan met verbintenisse met die betrokke Provinsiale en Nasionale Regeringsdepartemente, asook gesprekke met potensiële kopers wat in staat is om aan die bedryfskapitaalvereistes van die besigheid te voldoen en ’n langtermynverbintenis het om die volhoubaarheid van die besigheid te verseker.