Die Suid-Afrikaanse Inkomstediens (SAID) het aangekondig dat 18 van sy belastingtakke nie Dinsdag oop sal wees nie, aangesien sy personeel met ’n loonstaking begin het.
AfriNuus het gister berig dat die vakbond Nehawu vandag met sy stakings oor loongeskille sal begin.
In ’n verklaring het die SAID gesê: “(Ons) vra om verskoning vir enige ongerief wat veroorsaak word, maar as gevolg van nywerheidsaksies wat regoor die land by die SAID plaasvind, ervaar ons vertragings in die diens aan ons belastingbetalers.”
Die inkomste-invorderaar het die publiek versoek om voort te gaan om van sy digitale dienste gebruik te maak gedurende hierdie tyd.
SAID-personeel het die eerste keer in Mei begin staak, toe die vakbond en Jan Taks nie oor ’n loonooreenkoms kon skik nie.
Volgens berigte het vakbonde ’n voorgestelde loonverhoging van 1,39% verwerp.
Die SAID het in Mei gesê hy het eenvoudig nie die hulpbronne om aan die arbeidsvraag van die verbruikersprysindeks (VPI) plus 7% te voldoen nie.
Die volgende belastingtakke en doeanekantore is gesluit:
Gauteng:
- Edenvale
- Benoni
- Randfontein
- Springs
- Boksburg
KwaZulu-Natal:
- Richardsbaai
- Pietermaritzburg
- Durban
Wes-Kaap:
- Kaapstad
- Mitchellsplain
- Paarl
- Beaufort-Wes
Mpumalanga:
- Mbombela
Oos-Kaap
- Mthatha
- Uitenhage
- Oos-Londen
Noord-Kaap en Vrystaat:
- Upington
- Qachas (grenspos)