Russel Meiring, ER24-kommunikasiebeampte, het in ’n verklaring bevestig dat ’n man vanoggend oorlede is en ’n vrou ernstig beseer is toe hul voertuig van die N17, ongeveer 5 km buite Ermelo in Mpumalanga, gerol het.
ER24 en die Provinsiale Brandweerdienste het om 07h00 op die toneel aangekom om ’n ligte motorvoertuig te vind wat op sy sy langs die pad gelê het. ’n Man en vrou, vermoedelik in hul 20’s, is gevind waar hulle ongeveer 10 meter van die motor af gelê het.
Medici het die pasiënte beoordeel en gevind dat die man reeds aan sy talle beserings beswyk het. Niks kon vir hom gedoen word nie, en hy is op die toneel dood verklaar.
Die vrou is met verskeie beserings gevind. Die vrou is behandel en van gevorderde lewensondersteuning voorsien, voordat sy na ’n nabygeleë hospitaal vir dringende sorg vervoer is.
Plaaslike owerhede was op die toneel vir verdere ondersoek.