Kaptein Sandra Janse van Rensburg, polisiewoordvoerder in die Oos-Kaap, het die gemeenskap se hulp gevra om die naasbestaandes van ’n egpaar te identifiseer, wat se lewelose liggame op 11 Julie 2022 in die bosse naby die N2-snelweg in Kabega Park, Gqeberha, gevind is.
Na bewering is die polisie Maandag om 09:00 in kennis gestel van die ontdekking van die lyke deur ’n persoon wat in die bosse geloop het. Met aankoms is ’n onbekende man gevind waar hy voor ’n boom gesit het met sy nek wat aan die boom vasgemaak is. ’n Tweede liggaam van ’n vrou is sowat 5 meter verder gevind. “Sy het met haar gesig na onder op die grond gelê,” voeg kapt. Janse van Rensburg by. “Albei liggame was in die vroeë stadiums van ontbinding.”
Hulle is tussen die ouderdomme van 20 en 35 jaar. ’n Nadoodse ondersoek sal op albei oorledenes gedoen word om die presiese oorsaak van sterftes te bepaal.
Die polisie ondersoek twee sake van moord.
Enigiemand wat kan help om die oorledenes te identifiseer of dalk van hul naasbestaandes weet of enige inligting het, word gevra om 041 397 6867, Crime Stop by 08600 10111 of die naaste polisiestasie te kontak. Alle inligting is vertroulik en bellers kan anoniem bly.