Solidariteit het vandag ʼn petisie na die parlement gestuur oor die kragopwekkingskrisis wat tans in Suid-Afrika heers. Dit volg nadat Solidariteit onlangs ʼn verslag bekendgemaak het wat grootskaalse privaat kragopwekking as oplossing vir beurtkrag voorstel.
Solidariteit eis onder meer in sy petisie dat alle regulatoriese of wetgewingshindernisse vir onbeperkte privaat kragopwekking dringend uit die weg geruim word.
Volgens Solidariteit is dit betreurenswaardig dat die regering aanhoudend probeer om die voortou te neem om die energiekrisis sentraal op te los. Solidariteit voer aan dat hierdie benadering al tot 15 jaar se van verspeelde geleenthede gelei terwyl besluitnemers vasgevang was in onbevoegdheid, korrupsie of ideologie.
Solidariteit se petisie eis dat die regering dringende die volgende stappe doen:
1. Desentraliseer opwekking so vinnig as moontlik;
2. Laat vaar die boubeperkings wat vir onafhanklike verskaffers van hernubare energie (REIPPP) geld en skrap die onafhanklike kragprodusente-verkrygingsprogram vir risikoversagting (RMIPPPP) in die geheel. Skrap ook alle onnodige regulasies wat beleggers uit hierdie mark hou (SEB-vereistes, verkrygingsvereistes, ens.);
3. Verhoog opleiding in hernubare energie en in batterybergingstegnologie; en
4. Implementeer ʼn ruim toevoertariefskema om onmiddellike voorsieningskwessies te takel.
Om Solidariteit se volledige petisie te besigtig, klik hier.