Volgens Risham Maharaj, DA-LPW en die party se woordvoerder oor die kantoor van die premier, ondersoek die DA berigte dat die departement van gesondheid in Limpopo (LDoH) R1 miljoen per dag betaal om lêers te skandeer en te digitaliseer.
“In Maart 2020 het dié departement ’n kontrak aan ’n diensverskaffer, Veritas Digital, toegeken om onaktiewe rekords van Limpopo se hospitale en klinieke vir ’n tydperk van 60 maande te skandeer en te stoor. Die LDoH het versuim om die geldwaarde wat aan die tender toegeken is aan die portefeuljekomitee oor gesondheid bekend te maak,” sê Maharaj. “Tog, volgens onlangse mediaberigte, het die LDoH ’n buitensporige bedrag van R1 miljoen per dag aan hierdie diensverskaffer betaal.”
Dié departement het voorwaardelike aanspreeklikhede van meer as R14 miljard wat spruit uit mediese regsake teen hom. Die verlies van pasiëntrekords is een van die hoofoorsake van die hoë tempo van litigasie en die digitalisering van hierdie rekords is dus uiters belangrik. “Die bedrag van R1 miljoen per dag is egter onpeilbaar en heeltemal onaanvaarbaar,” voeg Maharaj by.
“Verder gebruik die departement sowat 70% van sy begroting om werknemers te vergoed en laat baie min hulpbronne vir dienste oor.”
Die DA meen dat elke sent verstandig gebruik moet word om te keer dat die provinsie se gesondheidstelsel in duie stort.
Die DA meen dat die LUR van Gesondheid in Limpopo, Phophi Ramathuba, saam met haar senior bestuur voor die portefeuljekomitee moet verskyn en alle relevante besonderhede rondom die aanstelling van Veritas Digital en die presiese geldwaarde van die ooreenkoms verskaf. “Sy moet ook rekenskap gee van hul daaglikse bedrywighede.”
Die DA het aan die komiteevoorsitter, Joshua Matlou, geskryf om die saak te bespoedig.
“Ons sal ook parlementêre vrae indien om alle relevante inligting in die toekenning van die kontrak te bekom.”