Die Oos-Kaapse hooggeregshof in Grahamstad het Siyanda Madlebe (47) tot lewenslange tronkstraf gevonnis, omdat hy ’n negejarige meisie herhaaldelik by verskeie geleenthede verkrag het. Dié 9-jarige meisie is deur haar ouma se kêrel verkrag.
Luxolo Tyali, streekwoordvoerder van die nasionale vervolgingsgesag (NVG) het in ’n verklaring bevestig dat die hof ook beveel het dat sy naam in die Nasionale Register van Seksuele Oortreders opgeteken word. Madlebe was die kêrel van die slagoffer se ouma, en hulle het in die jaar 2018 en 2019 saam in Keiskammahoek, ’n dorpie in die Oos-Kaap, gebly.
Hul leefreëling was dat die slagoffer in die kombuis geslaap het, terwyl haar ouma en Madlebe in die slaapkamer geslaap het. Gedurende die nag het Madlebe kombuis toe gekom, die slagoffer uitgetrek en haar verkrag. “Hy sal haar mond met sy hand toemaak om te keer dat sy skree en dreig om haar dood te maak as sy die verkragting aanmeld,” voeg Tyali by.
Die seksuele aanrandings het by talle geleenthede voortgeduur totdat die jong meisie haar ouma ingelig het. Sy het haar egter nie geglo nie, maar haar vermaan. Die ouma het selfs gedreig om die slagoffer met ’n mes dood te maak as sy sou aanhou om “leuens oor haar kêrel te versprei”. Selfs nadat die meisie haar vriendin vertel het, het die ouma geweier om haar te glo.
Madlebe is eers in hegtenis geneem nadat die slagoffer haar ma vertel het nadat sy in 2021 uit haar ouma se huis getrek het. Tydens die verhoor het Madlebe onskuldig gepleit en alles ontken. Adv. Nocwaka Blorweni-Tokota het die getuienis van die slagoffer, haar ma, haar vriend en ondersoekbeampte, sersant Candy Gala, gelei om die hof van Madlebe se skuld te oortuig.
Met die verwelkoming van die vonnis het die Oos-Kaapse direkteur van openbare vervolging, Barry Madolo, die aanklaer en die ondersoekbeampte geloof vir hul noukeurige versameling en aanbieding van bewyse.