Die onafhanklike polisie-ondersoekdirektoraat (Opod) het bevestig dat hy ’n klag ontvang het wat deur die hoof van gemeenskapsveiligheid by Action Society, Ian Cameron, ingedien is. Die klagte hou verband met die wangedrag van lede van die Suid-Afrikaanse Polisiediens (SAPD) toe hulle Cameron verlede week na bewering met geweld van ’n gemeenskapsvergadering in Gugulethu, Kaapstad, verwyder het.
Cameron het ook aanklagte van crimen injuria en gewone aanranding teen die Minister van Polisie, Bheki Cele, en polisielede gelê, nadat die minister ’n uitbarsting gemaak het toe Cameron sy mislukking as minister uitgewys het.
Crimen injuria beteken om iemand waardigheid aan te tas.
Oorlewendes en families van slagoffers van geslagsgebaseerde geweld het Action Society opdrag gegee om namens hulle tydens die vergadering te praat.