Vincent Magwenya, woordvoerder van die president, het bevestig dat president Cyril Ramaphosa die land “in die komende dae” sal toespreek oor maniere om beurtkrag aan te pak.
“Alle opsies word oorweeg vir maniere om meer krag tot die kragnetwerk te voeg,” het Magwenya Woensdagaand in die onderhoud met eNCA gesê.
Magwenya het verder bevestig dat die veklaring van ’n nasionale noodtoestand binne die energiesektor nie uitgesluit word nie. Die DA het ’n beroep op die nasionale regering gedoen om ’n noodtoestand af te kondig, sodat die probleem voorkeur geniet.
Na raming het beurtkrag Suid-Afrika se ekonomie in 2020 R500 miljoen per fase, per dag en die Wes-Kaap se ekonomie R75 miljoen per fase, per dag gekos.
President Cyril Ramaphosa is volgens sy woordvoerder sedert sy terugkeer na Suid-Afrika uit Duitsland en fase 6-beurtkrag ingestel is, “hard aan die werk om ’n plan op te stel om die 14 jaar oue kragkrisis op te skort.”
Ramaphosa sal dus vandeesweek nog die land toespreek oor die energiekrisis en die regering se plan om beurtkrag stop te sit.
Die president se woordvoerder het egter nie meer inligting in die verband bekendgemaak nie, maar hy het wel bevestig dat die rompslomp gesny sal word om die private sektor te betrek om krag op te wek.