Dr. Mimmy Gondwe, DA-woordvoerder oor staatsdiens en administrasie, sê dat dié politieke party ’n dringende beroep op die Departement van Maatskaplike Ontwikkeling (DSD) en die Suid-Afrikaanse Agentskap vir Maatskaplike Sekerheid (Sassa) doen om die saak van die staatsamptenaar wat aansoek gedoen het om die R350-noodverligtingstoelaag te ontvang, te ondersoek.
Die DA doen hierdie oproep na aanleiding van ’n onlangse skriftelike antwoord, deur die Minister van Maatskaplike Ontwikkeling, Lindiwe Zulu, op ’n parlementêre vraag wat aan die lig gebring het dat die betrokke staatsamptenaar in diens is as ’n stafhoof by een van die provinsiale departemente.
Die skriftelike antwoord het verder aan die lig gebring dat die hoof van die betrokke provinsiale departement nie ingelig is oor die feit dat die betrokke staatsamptenaar een van 5 812 staatsamptenare is wat deur die noodverligtingstoelae voordeel getrek het nie.
Benewens ’n beroep op die departement van maatskaplike ontwikkeling (DMO) en Sassa om die saak onder die aandag van die hoof van die betrokke provinsiale departement te bring, doen die DA ook ’n beroep op die hoof van die betrokke provinsiale departement om die betrokke staatsamptenaar op voorsorgmaatreël te skors.
Die DA doen dié oproep op grond daarvan dat die betrokke staatsamptenaar ’n senior pos binne die staatsdiens beklee en verder ’n salaris van meer as R1 miljoen per jaar trek. As voorvalle van korrupsie en bedrog binne die staatsdiens doeltreffend hanteer word, moet die byl op almal val, veral op diegene wat bo is en waarvan verwag word om deur voorbeeld te lei.
“Die DA sal nie rus totdat die geïmpliseerde staatsamptenare aan dissiplinêre en kriminele prosesse onderwerp word en ook die geld terugbetaal wat hulle van die staat gesteel het,” sluit dr. Mimmy Gondwe af.