Die Padverkeersbestuurskorporasie (RTMC) het die afdanking van twee verkeersbeamptes verwelkom, nadat hulle interne dissiplinêre verrigtinge op aanklagte van korrupsie in die gesig gestaar het. RTMC het ook die inhegtenisneming van drie ander beamptes op aanklagte van afpersing en korrupsie verwelkom.
Mfanafuthi Gift Hleza wat by die Msukaligwa-munisipaliteit in Mpumalanga gestasioneer is, het ’n geheime beampte van RTMC se nasionale teenkorrupsie-eenheid (NTACU) op 22 Januarie 2020 in Ermelo voorgekeer omdat hy bo die spoedgrens gery het. Hleza het omkoopgeld van R200 geëis vir hom om nie ’n verkeersboete aan die geheime beampte uit te reik nie.
Op dieselfde dag is die geheime beampte deur Thembisile Octavia Yende gestop, ’n verkeersbeampte wat by Ermelo se verkeersdepartement gestasioneer is.
Yende het omkoopgeld van R50 geëis om nie ’n boete uit te reik vir die versuim om die voorste registrasieplaat van die voertuig te vertoon nie. Beide omkoopgelde is betaal en die geheime beampte is toegelaat om voort te gaan na hy albei boetes vrygespring het.
Ná lang interne dissiplinêre kwessies is albei beamptes skuldig bevind en weens korrupsie afgedank.
In ’n ander saak het NTACU saam met die Tshwane Standaard- en Integriteitseenheid drie beamptes van die Tshwane-metropolisie (twee mans van onderskeidelik 39 en 40 jaar en ’n vrou van 30 jaar) weens korrupsie in hegtenis geneem.
Die arrestasie het op 11 Julie 2022 plaasgevind ná ’n klag wat deur die Tshwane Standaard- en Integriteitseenheid na NTACU geëskaleer is.
Daar word beweer dat terwyl die drie beamptes op patrollie was, hulle ’n motoris in Loislaan in Pretoria-Oos afgetrek het en al drie beamptes uit hul patrollievoertuig gegaan het om die voertuig te inspekteer.
Tydens die inspeksie het hulle die bestuurder begin intimideer en gesê die motor mag nie op die pad wees nie, omdat die bestuurder ’n permit gebruik wat nie ’n handelaarstempel gehad het nie. Hulle het gedreig om die voertuig te skut indien sy nie omkoopgeld van R3 000 op die plek betaal nie.
Die bestuurder het aangedui dat sy nie geld het nie en dat sy nie kan bekostig om haar motor te verloor nie en is laat gaan. Terwyl sy bestuur het, is sy voorgekeer deur die MMC van Gemeenskapsveiligheid in Tshwane waar sy verduidelik het wat pas gebeur het.
Die MMC en die klaer het kontakbesonderhede uitgeruil om die saak op te volg.
Die voertuigbestuurder het later opgemerk dat ’n metropolisievoertuig haar agtervolg toe sy by die ingang van haar huis stilhou. Die twee manlike beamptes wat haar voorheen voorgekeer het, het uit die patrollievoertuig geklim en vir haar ’n selfoonnommer gegee waar sy weer gevra is om via e-wallet die omkoopbedrag van R3 000 waarvoor hulle voorheen gevra het, te betaal.
Die klaagster het die geld inbetaal, en sy het die MMC oor die transaksie ingelig. Die MMC het die voorval by die Tshwane Standaard en Integriteitseenheid aangemeld wat gelei het tot die arrestasie van die beamptes vir afpersing en korrupsie.
Lees meer:
20220713-Two-traffic-officers-dismissed-for-corruption-three-more-arrested