Netcare 911 berig dat dié nooddiens Woensdagoggend om 09h39 gereageer het op berigte van ’n kind wat bewusteloos in Heliodorstraat in Laudium, Tshwane, gevind is.
Toe medici op die toneel aankom, het hulle lede van die publiek gevind wat kardiopulmonêre resussitasie (KPR) op ’n baba toepas.
Die noodsorgpraktisyn van die mediese nood-en-reddingsdiens het onmiddellik herlewingspogings oorgeneem.
Volgens die publiek op die toneel was die baba, wat na raming ongeveer 6 dae oud is, toegedraai in klere wat in ’n plastieksak geplaas is. ’n Man wat deur die asblik gegrou het, het op die baba afgekom.
Ten spyte van die beste pogings van paramedici op die toneel, het die baba se toestand vinnig agteruitgegaan en is die kind ongelukkig ’n rukkie later dood verklaar.
Omstandighede wat daartoe gelei het dat die baba in die asblik gevind is, sal deur die Suid-Afrikaanse Polisiediens (SAPD) wat op die toneel was, ondersoek word.