Die Cederberg-munisipaliteit het Woensdag vir William Farmer (DA) tot burgemeester verkies, asook Wentzel van Neel (PA) as die nuwe onderburgemeester. Maxwell Heins (ANC) is verder tot die nuwe Speaker verkies.
Die munisipaliteit is deur ’n koalisie van Cederberg Eerste, VF Plus en die DA regeer.
“Die Cederberg-munisipaliteit is die afgelope weke gewik in ’n aanspreeklikheidsdebat,” lui ’n verklaring deur die Cederberg-munisipaliteit. “Die kollig was op die wetlike pligte en verantwoordelikhede van raadsampsdraers en in besonders die rol en funksies van die burgemeester.”
Op die raadsvergadering van 4 Julie 2022 was ’n intensie vir ’n mosie van wantroue teen die burgemeester Ruben Richards, onderburgemeester Johan Van der Heever en Speaker van die raad, William Farmer ingedien.
“Verskillende menings, opinies en argumente was aangehoor waarop die raad besluit het dat die mosie binne sewe dae deur die raad aangehoor en hanteer word.”
Op Woensdag 13 Julie 2022 het die 11 raadslede die mosie aangehoor en hanteer.
“Die burgemeester is die geleentheid gebied om redes te verskaf waarom die raad nie dissiplinêre stappe teenoor hom moet neem nie,” lui ’n verklaring verder.
Die raad het by wyse van stemming besluit dat die mosie hanteer word. Gevolglik, moes die ampsdraers uit hul posisies tree en het ’n verkiesingsproses gevolg.
Nadat al drie ampsposisies vakant geword het, moes die raad begin deur ’n Speaker te verkies. Hierdie proses is deur die Munisipale Bestuurder Dawid Adonis hanteer, waarna raadslid Maxwell Heins by wyse van ’n stemming verkies is as die Speaker van die raad.
Raadslid Maxwell Heins het sy nuwe posisie as Speaker ingeneem en die verkiesingsproses verder geneem om ’n burgemeester en onderburgemeester te verkies.
As sy eerste taak het raadslid Maxwell Heins die Munisipale Bestuurder ’n mandaat gegee om die verkiesingsproses verder te hanteer.
Raadslede William Farmer en Wentzel Van Neel het onderskeidelik die verkiesing gewen as burgemeester en onderburgemeester in daardie orde.
Met die nuwe burgemeester William Farmer in sy amp het hy raadslede Franscois Kamfer en Paulus Strauss aangewys as lede van sy Burgemeesterskomittee.
“Die munisipaliteit verwelkom die nuwe ampsdraers en wens die raad alle sukses toe met hul werksaamhede,” sluit ’n verklaring af.
Die Cederberg-munisipaliteit dien Citrusdal, Clanwilliam, Graafwater, Lambertsbaai, Elandsbaai en Wupperthal in die Wes-Kaap.